Heil die Leser

Monthly editorial · Amanda Kreitzer

Prose

Beginsel

This piece has not been translated into English. The Afrikaans original is shown below.

Voorwoord

Jacobus Johannes van der Merwe was in 1850 die eienaar van die plaas Welbedacht, Blouvlei in die toenmalige Wamakersvallei. Hier is die bekende skool van meester M. J. Stucki opgerig en baie jare in stand gehou. In 1839 koop hy ’n stuk berggrond wat hy Oostenburg noem. Dit was geleë aan die voet van Wellington se twee sneeukoppe en het gestrek tot teen die Witterivier. Aan beide kante van die rivier en ook aan Wellington se kant tot teenaan die Bainskloofpas, waar die Witterivier onder deur die pad vloei. Die Witterivier was nie net ’n geliefkoosde kampeerplek vir die familie nie, maar ook die plek waar een van die gruwelikste moorde van daardie tyd (1840) gepleeg is. Jacobus het in die wintermaande sy beeste daar laat wei onder die sorg van sy eertydse slaaf, Beginsel, wat daar sommer in ’n opslaanskermpie gewoon het. Op ’n dag kom ’n vyftal drosters, wegloopslawe, aan hom bekend, daar verby. Hulle het paar beeste by hulle gehad wat hulle op ’n plaas by Agter-Groenberg gesteel het, op pad na hulle skuilplek. Beginsel het alarm gaan maak en die beeste is teruggekry maar die drosters het ontsnap. Toe Beginsel nie vir sy rantsoen opdaag nie, is ’n soektog op tou gesit. Die bende drosters is verdink. Hulle was op daardie stadium in Wemmershoek by ’n bruilof in een van die volkshuise. Hulle is daar deur die boere voorgelê en na Welbedacht gebring waar hulle die nag aan akkerbome vasgemaak is. Die volgende dag het Krisjan die lyk gaan uitwys. Die vyf drosters is na Kaapstad gebring, verhoor en gehang. Hulle lyke het etlike dae langs die pad in Bellville waar die ou Paarlweg en Strandweg ontmoet (nagenoeg waar Sanlam vandag is), gehang.


Soms kom die dood genadig en vinnig, maar toe dit vir Beginsel kom haal het, was dit nie haastig nie.

Vir my was die dood nooit ’n vyand nie. Want ek het met hom groot geword soos met ’n broer. As jy gewoond is daaraan om vir baie lank baie alleen te wees, is jy ook gewoond aan die dood. Maar rypheid van ervaring leer jou om sy spoor te ken en jy leer hoe om nie ín sy spoor te trap nie, maar langsaan. Jy hoor sy spoor as die koeie snags onrustig is en jy weet hulle ruik ’n luiperd. Somermaande sien jy sy spoor saam met die van die geelslang sin. Dan trap julle as’t ware in mekaar se spoor want as Maart eers gekom het, loop die geelslange dik in Wamakersvallei.

Vir my, Beginsel, was die dood nie ’n vyand nie. Want ek het Ma sien doodgaan. En die vrede wat van haar besit geneem het was groter as die lewe én die dood. Van toe af was ek oor doodgaan nooit weer bekommerd nie. Die geel kapel wat tussen die riviergrasse lê kon my nie meer angstig maak nie. Ek het my wel bekommer oor daai onbeskryflike vrede wat Ma gehad het. Want ek het geweet dat ek nie sonder dit kon doodgaan nie. Sonder dit sou die dood vir my te sterk wees. En met die dood kan g’n niemand baklei en wen nie. Op die ou end is hy ons almal se baas.

Beginsel lek oor sy droë, geswelde lippe wat plek-plek fyn krakies gemaak het en nou begin bloei vir ’n bietjie vog, maar omstandighede het sy speeksel verban. Sy honger het hy al twee dae terug verloor, maar die dors, die vreesaanjaende dors, wil hom nie onderwerp nie.

Die finaliteit van wat met hom gebeur het kom lê soos ’n sagte hand op Beginsel se bors. Hy voel hoe sy stywe liggaam wat wil breek onder die las van sy gevoude arms wat agter sy rug vasgepen is op ’n eienaardige manier ontspan.

Beginsel dwing sy oë wat moeg geword het om teen die rante te soek vir enige teken van lewe, maar soos gister en eergister verdoof sy hoop saam met die laaste lig tot ’n donker stilte en berusting. En dan kom die koue. Beginsel dink aan sy skerm en aan sy vuurtjie. Sy armvol hout wat hy opgetel het om die aand sy vuur mee te maak wat nog net so lê waar hy dit neergegooi het.

Beginsel onthou die aand wat hy met die beeste afgekom het rivier toe om hulle te laat drink. Die laaste strale van die son was toe alreeds gebêre agter die steil hellings van die Hawekwas en sy oë het vir oulaas die lowergroen vallei met sy spierwit songebakte klippe in die rivierbedding gekoester asof hy dit vir die eerste keer sien. Hy het al so baie prentjies van hierdie versteekte vallei wat hy heimlik as sý vallei beskou, in sy gees gebêre. Want hy weet hoe gulsig jou oë als insluk om dit onmiddellik te vergeet.

Beginsel is gelukkig met wat hy doen en oor wie hy is. Toe hy nog nie vrygemaak was nie, maar slaaf, was hy ook gelukkig. Dis vir hom lekker as hy op Welbedacht is, want sy makers is almal daar en baas Jacobus en die noi is goed vir hom. Maar vir Beginsel is die wintermaande hier bo in die berg waar hy alleen die beeste oppas sodat hulle die ruig wintersgras wat in die vleie van die Witterivier groei afwei, die hoogtepunt van sy lewe. Beginsel mis nie geselskap nie. Daar is ook geen geselskap hier nie. Behalwe Krisjan en sy drostervriende wat paar weke gelede terug met gesteelde beeste van Agter-Groenberg haastig hier verby is op pad Franschoek toe. Beginsel het vir baas Jacobus daarvan gesê en die beeste is aangekeer maar die rampokkers het ontsnap.

Beginsel se ooglede ontspan en val toe. Hy sien weer hoedat Krisjan aangestap kom net toe hy sy kop by die deur uitsteek en vir hom sê: “Ja, jy het mos vir die Duisman vertel dat ons die beeste gesteel het. Vandag reken ons met jou af.”

Beginsel het geweet dat mooipraat nie sal help nie. Nie met Krisjan nie. Die wraak het Krisjan opgevreet en ingesluk. “Op jou knieë, verraaier!” het hulle hom beveel. Beginsel was magteloos en het hom nie eers probeer versit toe hulle eers sy voete en toe sy hande agter sy bene vasgemaak het nie. Beginsel kon toe nog glad nie raai hoe hulle sou afreken nie. Toe hulle hom egter tot so paar tree van die water af sleep en daar op sy sy rol en ’n paal deur sy arms en bene deur in die grond inkap, het Beginsel geweet wat op hom wag. Eers toé het die duiwelse lig in Kerneels se oë deursigtig geraak toe die kwaad soos slyk op die bodem gaan lê het. Beginsel se hart was sterk en het nie beswyk van vrees nie, maar sy vlees wat nie van beter weet nie, is besig om te kwyn onder die las van honger en dors.

Beginsel weet dat baas Jacobus eers Vrydag as hy nie afkom vir sy rantsoen nie, bekommerd sal raak en ’n soektog op toe sal sit. Beginsel weet nie hoe lank hy nog sal kan uithou nie. Aanvanklik was die kabbelende water gerusstelend en ’n lafenis. Maar van gister af is die geluid daarvan soos dolke in sy rou keel en koggelkrete in sy ore.

Beginsel verlang sy Ma. Beginsel wil weer huil soos toe hy klein was. Sy hart en sy lyf is koud, en alleen en seer. Seer gemartel deur die paal wat hom gevange hou. Beginsel se enigste troos teen die koue en die alleen en die dors is die warm trane wat sy liggaam iewers in sy dor aarde raak geboor het wat versigtig oor sy wange biggel. ’n Snik skeur sy bors oop en lê sy hart bloot. Beginsel weet hy moet bid. Hy moet nóú bid want sy ma steek haar hande na hom toe uit. Die Here het haar gestuur. Soos Hy sy vrede gestuur het.

Onse Vader wat in die hemel is Laat U naam geheilig word Laat u koninkryk kom U koninkryk wat my siel gemaak het . . . vas aan Uself Beginsel-vas aan u opdrag.


Krisjan druk sy oë en ore toe waar hy versteek onder ’n katstert-besembos lê. Vir wat het hy in elk geval teruggekom om te kom kyk of Beginsel nog lewe. Sou daar iewers verskuil in hom die moontlikheid wees dat hy vir Beginsel sou losmaak as dit nie te laat was nie? Sy hart is besig om sy kop deurmekaar te maak. Is hy besig om sag te raak? Hy beter maak dat hy by die ander kom.

Written by Amanda Kreitzer · Editor, Val du Charron, Wellington

An archive of her monthly editorials and prose pieces.