Prose
Terugblik
This piece has not been translated into English. The Afrikaans original is shown below.
Die oggend breek grou oor Wellington en nog grouer in Pikkewyn se gemoed. Sy benerige hand vee versigtig oor sy baard en ’n glimlag huiwer om sy mond want die blymoedige filosoof in Pikkewyn is besig om die oorhand te kry oor die miswolke wat besig is om hulleself nie net om die Hawekwas nie, maar ook om Pikkewyn se gemoed te drapeer. Normaalweg is hy nie vatbaar vir mismoed nie, maar vanmôre is Pikkewyn kleinserig vir die mistigheid wat by sy mouspype inkruip.
Die lewe vir Pikkewyn hier tussen die sagte hellings en voue van Wamakersvallei was een van genade. ’n Genade wat begin het toe die dorpsvaders goedgunstiglik vir hom sy eie staanplekkie hier op die hoogte gegee het waar hy saans die skoene van sy moedswillige voete kon afskop. ’n Genade wat gehou het solank as wat Pikkewyn vir die dorpsraad die musiekverhoog en voëlhokke in die Victoria Park skoon gemaak het. En van pligsversuim terwyl die dorp soveel vertroue in hom gestel het, sal niemand Pikkewyn kan beskuldig nie.
Vir Pikkewyn was sy twee weerbarstige voete aanvanklik ’n verleentheid en terugslag, want met die twee blokagtige skoene kon hy nie so flink beweeg soos hy wou nie, maar die lewe het Pikkewyn se verstand gebrei en hom geleer om eerder flink te dink. Pikkewyn hoef nooit ’n plan te gemaak het nie, want hy het altyd klaar een gehad. Pikkewyn se grootste deurbraak het gekom toe hy die fokus van sy voete af na die wêreld in sy gees verplaas het waar integriteit die voete word waarmee jou hart loop.
Maar vir Pikkewyn was sy twee jammerlike voete nie die Goliat in sy lewe nie. Eerder geld. Of die skaarste daaraan. Nadat die aandelemark in 1929 in duie gestort het en Pikkewyn sy werk verloor het, het die najaag van hierdie kommoditeit wat vir die meeste mense makliker is om in die hande kry as om te behou, sy grootste uitdaging geword. Gelukkig het Pikkewyn die belangrikste nié verloor nie — sy vermoë om deur die waan waarmee mense hulleself omring te peil en met fyn humor die diepste psige van die mens bloot te lê. Omdat Wellington se mense nie gewoond was aan draadloos of koerante nie, was vars nuus en veral skindernuus, altyd welkom en eintlik ’n vorm van vermaak. Iets wat Pikkewyn goed besef en tot sy voordeel ingespan het. Veral toe hy agterkom dat sy vlymskerp humor en gevatte sêgoed onder die mense rond sirkuleer en met groot lekkerte oorvertel word. Maar Pikkewyn is nie onredelik nie, en toe hy vir die burgemeester die bynaam Jan Sement gegee het oor hy eenmaal hard en ongevoelig in sy optrede was, het die naam gebly asof dit ’n brief na die regte adres gepos was. Om in hierdie gryse ou sieraad se goeie boeke te bly was ’n noodsaaklikheid. Niemand hoef tot oordeelsdag toe te gewag het sodat jou ongewensde dade of verborgenhede bekend gemaak sal word nie. Pikkewyn het dit sommer gedoen. Luidkeels en helder oordag in Wellington se strate het hy alles wetenswaardig uitgebasuin.
Pikkewyn het nie skoolgegaan nie maar die lewe het hom geleer om somme te maak. Sy eie somme het hom geleer dat gebrek en onvermoë baie minder is as gebrek plus moedswilligheid. En hierdie wysheid het hy op die proef gestel die dag toe hy vir oom Pietie in die dorp raakloop en vir hom ’n bydraetjie vra. Oom Pietie het deur al sy sakke gevoel en jammerlik gesê dat hy geen geld op hom het nie. “Vreemd,” sê Pikkewyn, “dat twee sulke arm mense nou by mekaar moet uitkom.”
Vir Pikkewyn moet ’n mens net genade hê. Dis soos dit lyk hoe die Here dit wil hê. Want toe sersant Langenhoven reken hy gaan vir Pikkewyn terugkry, toe werk Pikkewyn se wiskunde beter as syne. Sersant Langenhoven het daarvan te hore gekom dat Pikkewyn ’n hele pond opgetel het. Hy beveel Pikkewyn toe om deur die hele lengte van Kerkstraat te loop en uit te roep: “Pikkewyn het ’n pond opgetel, het iemand dit verloor?” alvorens hy dit vir homself mag vat. Pikkewyn is dadelik straat op en af en skree so hard soos hy kan: “Pikkewyn” — en dan op fluistertoon — “het ’n pond opgetel, het iemand dit verloor?”
Vir eerwaarde Breedt wat die verantwoordelikheid vir die sieleheil van Wellington se bruin gemeenskap op hom geneem het, was Pikkewyn ’n spesiale las, maar ’n las met ’n ligte kant. Soos die keer toe Pikkewyn voel hy is in vir ’n kwaai griep en vir eerwaarde Breedt ’n sikspens vra om ’n aspirien mee te koop. Eerwaarde Breedt doen die christelike ding en gee vir Pikkewyn die sikspens maar maak homself skuldig aan ’n onchristelike deug, nl. ongeloof. ’n Gebrek aan geloof in Pikkewyn se motiewe laat hom die ou rariteit volg tot binne in Sachs se kantien. Pikkewyn spring hom voor net toe eerwaarde hom op sy skouer klop. Hy bring die glas tot voor sy lippe en roep toe verontwaardig uit: “Maar kyk hoe verneuk so ’n deusman my nou! Ek vra hom vir ’n sikspens se aspirien en hy staan en gee vir my wyn.”
Pikkewyn kom stadig orent. Hy krap die los assies deurmekaar om te sien of daar nog bietjie warmte en lewe in is. Sy oë en gedagtes kom tot rus op ’n flou straaltjie sonskyn wat sy weg baan — vas en seker — tot waar dit in die grond ’n klein entjie weg van Pikkewyn anker. Pikkewyn is nou ingesluk deur die tyd en sy straaltjie is ook flou. Vanoggend het dit darem weer deurgebreek. Pikkewyn weet dat daar ’n dag gaan kom dat hy dit nie meer sal kan doen nie. Dan sal hy die gebreekte een wees. Pikkewyn is tevrede. Sy voete loop dalk skeef — vandaar sy naam. Maar sy hart loop reguit — vandaar sy bemindheid. En die Here min hom ook. So het hy altyd gesing en geweet.
Sou ouma Jaaitjie vandag kom, of is dit môre? Dit was nie gister nie want sy vergeet nooit haar siek mense nie.
Naskrif
Ouma Jaaitjie was die oumagrootjie van Lorenzo Bossi, bestuurder van Pick & Pay. Sy het elke Sondag servette soos roomyshorinkies gevou en dit vol peppermente gemaak. Dan het sy per trein of soms het mnr. Dietmann haar per motor geneem na die Somerset en Conradie hospitale. Daar het sy vir die pasiënte elkeen uit die Bybel ’n stukkie gelees, ’n gebed gedoen en dan ’n peppermentjie gegee. Kersfees het sy koek gebak en dit in wit en pienk lae versier en weer dieselfde gedoen. Toe Pikkewyn al baie oud was en sy oë met die hand toegedruk moes word, het ouma Jaaitjie hom hospitaal toe geneem.