Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Januarie 2005

Heil die Leser

Net soos wat die natuur hom gelate aan die seisoene onderwerp, so pas dit die mens dat hy hom onderwerp aan die omstandighede wat oor hom beskik word. Want is dit nie keer op keer genade dat wanneer ons aan die einde van ’n verhouding of tydvak in ons lewens te staan kom, ons terselfdertyd ook voor die moontlikheid van ’n nuwe begin te staan kom. Wat vir die wêreld na ’n mislukking of die einde lyk, bied vir God die moontlikheid om weer van voor af iets nuut te begin. Maar dan moet ’n mens bereid wees om jou rug te draai op die verlede en jouself oop te stel vir eindelose moontlikhede van genade. Al staan bakens van smart staan dalk soos rooi vlaggies op die landkaart van ons lewe, gaan ons pad steeds vorentoe en word ons grondgebied steeds uitgebrei. Soms moet ons fisies en materieël ingeperk word sodat ons grense na binne verruim kan word.

Wat ook al die geval is, ’n lied is nie minder mooi oor sy einde gouer was nie. Ons is almal op soek na ’n lied sonder einde, maar daaroor het niemand beheer nie. Die geheim van ware lewensvreude is nie hoe lank ons lied was nie, maar hoe suiwer ons noot. Om nootvas op ons lewenskoers te bly, veral as omstandighede ons van wysie af wil bring, is die grootste uitdaging. Die eenvoudiges kry dit soms makliker reg as die spoggeriges. En dat dit niks met vermoëns soos rykdom, IK of talent te doen het nie, het ons almal al agtergekom.

Die geheim van hoe om in pas met die ritme van jou eie unieke samestelling, behoeftes en omstandighede te lewe, is ’n kuns wat nie in boeke of skole geleer word nie. Jy leer dit by die lewe en jou eksamens skryf jy soms in trane op die slagveld van jou eie hart. Dop jy of raak jou noot vals, raak dit onmiddellik almal in jou binnekring en sukkel almal om noot te hou.

2005 het sy bladmusiek kom oopsprei voor ons. Daar is vir ons elkeen ’n lied — ’n nuwe begin. ’n Kort lied beteken nie dis minder mooi nie. Soms wil God hê dat ons ten spyte van omstandighede en mense moet leer hoe om om lied nootvas te hou en hoe om dankbaar te wees onder alle omstandighede. Ons moet dit ook altyd in gedagte hou dat ons optrede of gesindheid dalk weer die oorsaak was dat iemand anders sy noot verloor het. En dan is daar nog ’n laaste stuk realisme — onthou dat niks vir altyd aanhou nie. Nie die goeie tyde en ook nie die slegte nie.

Die hoogtepunt is wanneer jy aan die einde van jou lied gekom het en ’n koor van stemme jou laaste refrein in harmonie saam met jou sing. Ons is nie gemaak om acapella ons lewenslied te sing nie. Begeleiding maak dit makliker om wysie te hou net soos wat liefde mense saambind sodat hulle kragte nie verbrokkel nie. Mag 2005 ’n oesjaar wees vir almal wat voel dat 2004 ’n saaijaar was.

Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.