Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Maart 2005

Heil die Leser

Opgedra aan Abraham Izak Perold — wegwyser van ons wingerdbou.

Soms sittend of partykeer staande op dun, krom beentjies is Wellington se wingerde daagliks onderheuwig aan ’n kastyding wat aanvanklik as ’n lafenis begin. Vandat die son sy eerste straaltjie skuins bokant Sneeukop oorgooi begin dit momentum kry totdat dit etenstyd soos ’n brandyster loodreg insink om seker te maak sy hittige stempel van eienaarskap is op mens, dier en die natuur ingebrand. En asof genaakbaarheid ’n teken van swakheid is, stook hy sy strale woedend tot uitvaltyd.

Ten spyte van hierdie knellende lot verloor die wingerde nooit hul bekoring nie. Wanneer die son alles vaal en afgetakel mergel, is dit die moedige wingerde wat in eweredige kontoere grasieus oor bultjies, om stroompies en langs grenslyne af standvastig hulle lowergroen self uitsprei om vir die Wellingtonse oog en psige ’n lafenis gedurende hoogsomer te bied.

Die druif is ’n baie spesiale vrug. Jesus se eerste wonderwerk bevestig dit en Sy instelling van die nagmaal demonsteer dit. Dalk is dít hoekom Wellington so ’n geseënde vallei is. Hier bly nie net die wonderlikste klomp mense nie, maar die grootste deel van ons heuwels en voue en gelyktes lê knus toegedek onder die vertroostende vleuels van wingerde.

Maar die geskiedenis van die wingerd in ons lands was nie altyd so rooskleurig nie. Kaapse wynboere het 145 jaar gelede ’n ekonomiese resessie in die gesig gestaar en wel om die volgende rede: Toe Engeland in 1860 ’n vryhandelsooreenkoms met Frankryk gesluit het, het die Kaapse wynuitvoer na Brittanje feitlik doodgeloop om nie weer gedurend die neëntiende eeu te herstel nie — hoofsaaklik vanweë die swak gehalte Kaapse wyne.

Dit was egter ’n Dalse seun, Abraham Izak Perold wat soos ’n wynprofeet toe die nood op sy hoogste was, die ramp van hierdie uitverkore vrug afgekeer het. Na sy matriek aan die Wellington Boys High kies Perold die studiewêreld van wyne as sy beroep. In D.F. Malherbe se woorde: “Die druiwetros wat ek en hy saam uitgekorrel het by eerste kleuring onder die groen blare in Desember, dieselfde druiwetros sou die voorwerp van sy lewenslange studie en arbeid word.”

Terwyl wyn- en stokkiesboere dankbaar en tevrede terugkyk op die afgelope oes en welvaart wat oor dekades hulle deel was, pas dit om hulde te bring aan die één man deur wie se toedoen dit moontlik gemaak is. Daarom word hierdie uitgawe opgedra aan Abraham Izak Perold — wegwyser van ons wingerdbou.

Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.