Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

April 2005

Heil die Leser

Die belofte van reën word soos ’n lokaas telkens voorgehou wanneer die wolke in sagte grys lae die vallei kom volmaak. Die geur van winter met sy nat, koel lafenis waai saggies saam met die dun luggie van die see af in en akker blare skarrel orals in doellose patrone grond toe.

’n Gevoel van afwagting kom maak hom tuis hier vlak in jou gemoed. As daar één wet is wat nooit verander nie dan is dit dat niks ooit dieselfde bly nie. Dinge herhaal hulleself soos die seisoene wat elke jaar terugkeer — maar verander, verander alles. Die mens inkluis. Jy kan dit groei of wyser word noem, maar na ’n lang droogte in jou siel begin gooi jy self dooie blare af om die aanbreek van ’n nuwe seisoen in jou binneste te bespoedig.

Die mens se gees is rusteloos en hy soek altyd nuwe uitdagings of as die aarde verskroei is, nuwe horisonne. En die hoogtepunt van genoegdoening is wanneer jy dieselfde gewaarwording van groei in jou medemens agterkom. Omdat die dimensies van die gees nie sigbaar en meetbaar is nie, is dit voelbaar en bespeurbaar.

Die saad wat tot lewe lei word ongemerk in ons binneste gesaai waar die weldade van vriende en verbygangers dit voed en laat gedy. Maar jy moet weet hoe om jouself daarvoor ontvanklik te maak. Saad is meestal woorde. Woorde wat jy hoor of lees of dink wat hulleself in jou gees kom begrawe. Die vyand saai sy saad op dieselfde manier. Daarom mag die moontlikheid wat dit vir lewe of dood inhou, nooit onderskat word nie.

Maar dis nie ’n rêrige doodgaan nie — jy gaan rondom die lewe in plaas van déúr hom. Dit gebeur wanneer jy geestelik stagneer. Want om nie alles te los en jou te verlustig in ’n ongelooflike sonsondergang of wolke-skouspel wat manjefiek bo Groenberg en die Hawekwas uittower nie, is om lewendig dood te wees. Om met jou rug na die berge te sit as jy netsowel kon omdraai, verklap geestelike kortsigtigheid. Om sonder medelye te kyk na enige ou mens is om binnekant afgestomp te wees. As jy nooit in verrukking raak oor ’n lied, ’n tot-op-die-been gesprek, ’n raak sê-ding, ’n spontane konneksie-oomblik, ’n betekenisvolle blik of net altyd hopeloos gejaagd is, dan het jy jouself as dit by die beste dinge in die lewe kom, lankal begrawe. En as jy jou nie kan verbly oor die geluk iemand anders getref het nie, is dit skemer en bedompig in jou siel.

Dan is dit tyd om die seisoen tot halt te roep en die vensters en deure van jou hart oop te gooi met ’n kreet vir die reën om te kom. Die reën van welwillendheid en innerlike verdieping wat elke dag innig omhels en mooi oomblike koester lank na dit gebeur het.

Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.