Mei 2005
Heil die Leser
2005 se herfs is besig om geboorte te skenk aan die lieflikste winter wat sy sonnige windstil dae afwissel met onvoorspelbare dae gevul met koue rukwinde en lae wit-grys wolke wat buierig dreig om uit te sak. Op oopgetrekte dae wil die lekkerkry handuitruk as die oggende behaaglik en uitgestrek, hulleself oor die vallei kom werp met die losse omhelsing van ’n genadige wintersonnetjie se flou kus op alles.
Haar swellende buik word die reservoir van sagte motreën en aanhoudende sifreën wat kronkelend afloop uit Groenberg en die Hawekwas in die vrolike, kletsende stroompies, Krom en Dwars.
Op die maat van haar reëlmatige hartslae wat die pas vir verandering aangee, begin wingerde en vrugteboorde op waardige wyse hulle kleurskemas aanpas na ’n meer stemmige bruin en roes terwyl natuurlike optimiste oranje en geel verkies.
Soos wat die temperatuur buite die beskutte baarmoeder daal, word geboortepyne voelbaar skerper totdat die kindjie naak en onbeskut lê, gereed om die teistering van koue, wind en reën sonskynloos te trotseer.
Wat vir die menslike waarnemer na ’n aborsie lyk, is ’n perfekte omstandigheid vir God om sy stempel van goedentierenheid op af te druk. Hy voed en soog self hierdie misgeboorte, gestroop van alle waardigheid. Hý is die Een wat dit deur woeste en donker nagte van stormreën en wind in sy vaderarms teen sy bors koester. Hý is die Een wat genadiglik elke verwrong en kromgetrekte tak weer toemaak met nuwe lewe en stylvolle waardigheid. Hý is die Een wat slapende reptiele wakker maak en swaeltjies lees kompas lees. Hý is die Een wat hartsog in vinke en duiwe laat opwel sodat hulle met eindelose geduld en noukeurigheid nessies bou wetende hulle kleintjies sal oorleef.
Daar is niks in ons gees of omstandigheid wat só gestroop is dat ’n barmhartige God dit nie kan opwek tot nuwe lewe en nuwe sinvolheid nie. Ons aanvaar maklik alles wat negatief is wat na ons kant toe kom. Maar dit verg ’n doelbewuste besluit van wil en emosies om aan te hou om die goeie te verwag en te ontvang.
Ons hoef maar net elke doodgebore of doodgemartelde situasie voor God te bring en in blye afwagting terug te staan om te aanskou hoedat Hy sy wonderwerk stempel oral waar ons dit téén hoop op hoop verwag, in oorvloedige liefde kom afdruk. Dit leer die winter ons.
Groete Amanda Kreitzer