September 2006
Heil die Leser
Die wind se aanhitsing van die weer wanneer hy vlae reën in sy bakhand vat en dit soos ’n nat klap in jou gesig of teen jou lyf gooi, maak van hom ’n boelie. Enige dag, enige weer. Sonder aansiens des persoon gryp of klap hy wie of wat in sy pad is en dit sonder waarsku.
En tog is dit sy roeping om te interveer en te intimideer. Sy spoed, woestheid en koers is voorafbepaalde patrone fyn bereken volgens wetenskaplike plan en Goddelike doel. Die mens word sy eie slagoffer en stook sy eie orkaan wanneer sy oorywerige gejaag om by alles op sy lysie uit te kom soos ’n erosie die sinvolheid stadig maar seker uit sy lewe uit wegkalwer totdat hy uiteindelik soos ’n masjien is wat nie eens meer die voorreg het om op instink te reageer nie.
Die natuur handel volgens instink. Hulle blom, dra vrug, gooi blare af en hiberneer soos hulle geprogrammeer is toe God hulle geskape het. Die mens is nie geprogrammeer nie. Ons het ’n wil en morele keuse gekry wat ons kan uitoefen. Maar materialisme verblind ons geestelike sig en stagneer ons geestelike honger. Totaal ontwortel en vervlak fokus ons al ons energie en ywer op die tydelike. Want ons móét eet, en ons móét bly en ons móét hê en geniet. Ons vergeet dat die lagie beskawing wat tussen ons en totale blootstelling en uitwissing lê, vreeslik broos is. Kyk maar hoe gou is die mens wat, maak nie saak hoé hy homself buffer en panser nie, noodbevange en weerloos voor natuurrampe, pessiektes en ongelukke. Die massa kan homself nie voed of onderhou nie, maar teer op die supermark en sy infrastruktuur.
Dat daar ’n geestelike beskutting rondom ons is en ’n geestelike spyskaart waarby ons daagliks moet aansit, ontwyk die meeste. Dit ontwyk ons omdat ons warm is en lekker bly en ’n oormaat het om te geniet en weg te gee maar nie doen nie. Want om weg te gee en uit te deel kom nie instinktief nie. Adam het die instruksies verloor. Daarom is dit nie instink om God te soek en ook nie instink om ander hoër te ag as jouself nie.
Al hoe God ons aandag kry en ons weer in kontak met die ewigheid bring, is deur spoedwalle in ons lewens te gooi. Anders jaag ons onsself te pletter. Ons verongeluk dalk nie, maar slytasie eis wat hom toekom of die brandstof raak op. Daar is so baie wat spoedwalle nodig het: ons humeur, ons aptyd, ons kooplus maar veral ons ego wat so graag medaljes bymekaar maak. Dié moet die heeltyd met ’n snelheid van 60 of minder in toom gehou word.
God het ons nie sodanig gemaak dat ons instinktief uit die chaotiese rondomtalie-warrelwind van oorlewing en geldmaak sal klim of een oggend sal besef ons gees is uitgeput en uitgehonger vir die ewigheid en ons saldo by God is hopeloos oortrokke as gevolg van ’n onaktiewe rekening nie. Dis ’n besluit wat ons moet neem. Gebaseer op: genoeg is genoeg. Wanneer die ewigheid terug in ons gewerskaf en verhoudings kom, kry alles ’n hele spektrum van diepteperspektief én ewigheidswaarde by. Niks wat ons sê en doen is ooit sonder gevolge nie. Vir mans is dit vir drie of by vrouens vir vier geslagte vervloek óf dit kan vir 1000 geslagte geseënd wees. Maar dis EENVOUD wat dan cum laude triomfeer. Want dit kom nie net bo-aan ons besige lysie nie, maar interveer in alles wat ons beplan en hoe ons dit doen.
Om ’n deur te kan hê wat jy aan die einde van die dag agter jou kan toetrek om vir ’n wyle die res van die wêreld op ’n afstand te hou, is die mees basiese en wonderlik GENOEG. Om die geestelike deur te kan toetrek voor alles en almal wat daarop uit is om jou gees af te stomp en verrinneweer, is ook ’n mees basiese voorreg en wonderlik MOONTLIK — moontlik gemaak deur ’n liefdevolle Vader.
Groete Amanda Kreitzer