Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

November 2008

Heil die Leser

Elke mens se ware verhaal begin hier. Hier waar jy al hoe verder van mense, al hoe nader aan jouself kom. Tot binne fluisterafstand van jouself. Waar jou gedagtes ’n dialoog word—met jouself en met God. Hier hou jy post mortem van dooie verhoudings en dooie suksesse. Maar jy moet ver genoeg kom. Jy móét met ’n oop deur kan slaap. Ver genoeg om die tiranie van spieëls te ontsnap. Met net die geluid van stilte en eenvoud om jou gedagtes te onderbreek, oorrompel nuwe lewensbesefte jou soos inbrekers en skielik is die basiese nie net nie meer genoeg nie, maar eintlik oorbodig en te veel. ’n Derdewêreld-bestaan wat tong uitsteek vir die eerstewêreld met sy dagbeplanners en bloeddrukpille kry nuwe, eintlik ou, betekenis. Jy proe versigtig aan die eenvoud want dit lyk smaakloos, maar in voedingswaarde is dit meer as anti-oksidant vir die siel. Ons het almal ’n afspraak met eenvoud. Of ons dit gaan nakom, is ’n ander storie. ’n Hartseerstorie. Gewoonlik weens ons alewige besigwees. Want as ons nie een of ander tyd hardhandig tot stilstand geforseer word nie, vergeet ons van voetpaadjies of ’n plaashek wat oop- en toegemaak moet word, of die bleek skynsel van maanlig op ’n oop veld waar elke beweging en vorm vasgevang word in geheimsinnige skerp skaduwees wat tjoepstil niks van die nag se hartstog openbaar nie. By eenvoud leer jy dat daar tydlose dinge is wat lank reeds daar was voordat mense geleer het om geld te maak, dit na te jaag, of te verafgood. Voordat geld maak en geld spandeer die norm vir adrenalien-afhanklikes geword het, was mense meer as tevrede met net die behaaglikheid van die wind wat uit die regte rigting opkom, en wat innige moontlikhede inhou. Vir besitter én besitting. Niks kom naby die natuur se slow-motion-pas om jou eie spoed weer in trurat en sommer 4x4 te gooi nie. My afspraak het ek nagekom. Saam met Jugens en Karien Schoeman, Johan Bakkes en Mooiloop (Gerrit Rautenbach) en vriende Eldré en Ruan. Ek kon myself met oorgawe uitgiet en stroop voor die grootsheid van die magtige en dapper Cederberge wat jou heel insluk sonder om iets uit te spoeg. Stilte, nes geraas, moet verwerk word. Want stilte raas ook. Veral die veld s’n. Dit raas binne-in jou. Dit raas totdat jou eie gedagtes tevrede ophou kerm en alle vooropgestelde idees stert tussen die bene omdraai en wegloop. Kry jou gees dit reg om lank genoeg oopmond te staan, gooi die veld sy uitgestrektheid diep in jou af totdat elke krakie wat die oorsaak van oorbeskaafheid is, weer vol is. Julle word een en jy word nuut. Die nuwe jy verwonder hom oor ander dinge. Oor die nuwe tuin waar jy nou gaan stap en blomme pluk. Want buite is nou sommer binne. En binne is nie net mooi nie. Dis vrugbaar. ’n Nuwe seisoen. Betyds. Die lekkerste is om een vir een die beskawing se stutte weg te gooi. En met elke gooi kry jy ’n stukkie vryheid terug. Haardroeërs, make-up, selfone ... al die bederwers van keuse.
Die natuur blom sonder aanmoediging of opvoeding. Net op instink. ’n Mens wat weer reg ‘gekonnek’ en heel is, blom op instink. Sonder motivering, sielkunde of geleerdheid. Die natuur het óns nie nodig nie. Ons het die natuur nodig. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.