April 2009
Heil die Leser
Liefde wat bly uitgestel word verloor later alle skugterheid soos wat opgehoopte verlange se momentum sy eie maalkolk stook wat onskuld onstuimig tussen jou hart se mure vasdruk waar dit moeg gewag, beswyk. Die kalmte wat van jou hart besit neem ná so 'n totale oorgawe van behoefte maak die oorblyfsels van jare se verlangens bymekaar en perserveer dit tydens hartsoomblikke wanneer jóú wese eenword met die oomblik en met wié dit ook al mag oplewer.
Om die geldigheid van 'n afgestelde liefde te toets hou jy dit nie teen die termometer van 'n hart wat warm toegemaak onder die swaarlê van passie en omgee, al lui en omgeeloos nie meer traak of diep voel nie. Jy hou dit teen die oorspronklike opdrag van twee harte wat só in tandem klop dat jy twee sien, maar een hoor.
Omdat daar geen sterker gevoel as liefde moontlik is nie, kloof hoop wanneer dit uitgestel word, sy eie pad van verlange na hierdie oase oop. So word die beste deel van die liefde die soektog en die grootste deel, die seer. En al is jou reis soms baie alleen, is elke alleen tuiskom by die liefde tog wel 'n aangename verposing. Want selfs in die opwelling van erbarming en omgee is daar troos—wat die bymekaar kom van meer as een hart onnodig maak.
En elke woordelose influistering wat uiteindelik koers kies hart toe, word kompos vir 'n vrugbare landskap waar liefhê maklik wortelskiet. Liefde wat sonder hande, enige besitter daarvan salf met innige en soet gewaarwordinge wat die gees tydelik losmaak van die werklikheid, terwyl gevoelens groter as woorde óf die oomblik, jou alleenwees demp en geheimsinnig en vertroulik gerusstel lank nadat almal weg is en die lig al af is.
Groete
Amanda Kreitzer