Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Mei 2009

Heil die Leser

Die blindelingse stormloop van jou gevoelens deur enige vorm van onversigtigheid of onverskilligheid, is mishandeling op 'n vlak waar pyn jou martel sonder om jou dood te maak. Gewonde gevoelens word emosionele rugstekers wat soos verraaiers jou eie goedgelowigheid in 'n vloek verander wanneer hierdie hensoppers binne jou eie hart oorloop om aan te sluit by vyandelike gedagtes. Al waarna jy dan smag, is om net vir een rondte te mag uitsit. Sommer net om wonde te lek of om, totdat die storm verby is, jouself te herposisioneer en 'n nuwe oorlewingstrategie uit te werk. Om net iewers in 'n emosionele lugleegte te kan verdwyn.
Maar die spelreëls laat dit nie toe nie. Jy kan wegkruip, laaglê of jou rug op omstandighede draai, maar jy mag nie uitsit nie. Die spel het ál die spelers nodig. Die grypers en die gewers. Die traes en die gewilliges. Die opgewektes en die mislikes. Die haatdraendes en die liefdevolles. Dié wat beskuldig en dié wat vryspreek. Maar die grootste impak op ons lewens kom van die bedorwes en dié wat bederf. Die bedorwes is redelik skadeloos solank hulle honger ego’s kan aansit by 'n gedekte tafel. Maar dié wat bederf, rus nie tensy hulle jou dag (op baie maniere) bederf of die spelreëls probeer verander nie. Om 'n fyn aanvoeling te ontwikkel vir wát dit is waaragter hulle skuil en wánneer hulle toeslaan, is 'n lewenslange taak en kuns. Hierdie rowers van enige vorm van individualiteit en goedgelowigheid se rooi waarsku-merkie is net so weggesteek soos 'n knopie [-spinnekop?] s’n. Die dodelike gif van hulle buie wat nie doodmaak nie maar net verlam en jou laat wens jy kan diskwalifiseer vir [jou onttrek aan?] die spel, is meestal weggesteek in professionele gasvryheid en uiterlike beskaafdheid. Alleen maar gebind aan die een groot versugting van hulle harte wat pomp om hulle wil of bui op ander af te dwing, is jou eie geluk sowel as die spelreëls onderworpe aan hulle opregte [dis tog ’n positiewe woord; wat van opperste?] onsensitiwiteit. Om sin te probeer maak uit enige ervaring ná kontak met hulle is onmoontlik. Hierdie vatters roof jou daar waar dit nie moontlik is om tralies op te rig nie. Makelaars het ook nie versekering teen emosionele botsings met hulle nie. Iewers koer 'n duif—onskuldig, ontydig, maar betyds en opreg. Die spelreëls bly dieselfde en die skeidsregter het die fluitjie geblaas vir 'n oorbegin.

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.