Augustus 2009
Heil die Leser
Liefde wat soet geword het en sy weg gevind het na elke sintuig, lê warm in jou hart, blink in jou oë, en innig in jou stem. Instink volg sy geur soms oor oseane, soms oor dorpe of soms oor jare. Vir liefde is daar geen voorskrif of formule nie. Dis die spontane gewaarwording van 'n heerlikheid wat binne én buite jou are pols. Dis 'n bewussyn wat grense ignoreer, inhibisies verontagsaam, vir die onmoontlike kans sien, en sy rug op die ouderdom draai.
Die sagte gloed van liefde wat jou hart kom vol lê, wis letsels van selfs die grofste miskenning uit. Liefde se sagtheid maak die mees weerlose situasie bestand en ondeurdringbaar. Liefde gee sig aan jou gees en hande vir jou emosies. Dis die taal van jou hart met 'n melodie so geurig soos die klam reuk van droë grond na 'n warm somersbui. Die mure van jou hart raak deursigtig sodat geen gedagte in jou kop of verlange in jou hart weggesteek is nie. Dit lê in jou oë, jou lag en in jou hande. Die sagte nadertrek van jou hart word die bestemming van almal binne die radius van jou aanraking. Want jou hande wil nie mis wat jou hart interpreteer, of jou mond wat jou oë verklap nie.
Liefde inspireer op die diepste vlak van ons menswees—daar waar emosies hulle oorsprong het en waar ons persoonlikheid, duidelik afgeëts, terug weerkaats in ons handel en wandel. Liefde wat fyngevoelig en groter as jou eie kapasiteit vir ontvang is, is 'n mag wat sterker as enige tralies of boeie is. Dit sien hoop, vergeet oortredings en onthou die mooi.
Selfs wanneer die nag in stilte sy alleenheid blind in jou emosies weeklaag, eggo jou eie verlatenheid in noodvaste harmonie terug en stuur jou kop jou hart in 'n koersvaste rigting, weg van verlang wat pynig en van gedagtes wat maal. Die nag het sy eie greintjies van hoop. Hy werk suinig daarmee, maar nooit oppervlakkig of gevoelloos nie. Die nag bêre jou in sy donker omhelsing wat jou wegsteek teen hartseer wat almal wat alleen oorgebly het, ervaar. Gevoelens wat teer op innge oomblikke van onthou, hou jou dan styf vas.
Net soos landskappe hulle beslag in jou hart en gemoed kry, en nié in jou oog nie, kry mense ook vorm en betekenis namate jou hart jou oog kondisioneer om in te kleur wat moontlik is en nie wat moeilik is nie [Bedoel jy hier ‘wat moontlik en nie moeilik is nie’?]. Liefde is soveel meer as 'n gevoel. Dis 'n vermoë. 'n Kapasiteit waartoe sommige meer in staat is as ander. Uit 'n sagte gees kan jy beslis meer pars [pers?]as uit 'n rigiede siel. Om vas te hou aan die oorspronge van die lewe is 'n daaglike kuns wat jou hart verruim indien jy dit bemeester het. Dit beteken kontak met jou eie hart—veral wanneer weerloosheid toeslaan en ongenooid hand om die lyf met jou loop.
Daar móét iemand in ons lewe wees wat sorg dat ons sensitiwiteit in groot dosisse inkry—as medisyne teen ongevoeligheid en selfgenoegsaamheid. 'n Versteende ego en afgestompte gevoelens is simptomaties van 'n tekort aan innige sensitiwitiet wat koestering beteken—iemand se hand in joune. Oogkontak waar harte mekaar vashou en jy deur iemand se gees dring sonder om 'n stukkende plek of kneusing in emosies te laat.
Uiteindelik word elkeen se bestemming die brug wat jy bou na die een wat jou hart kies.
Groete
Amanda Kreitzer