Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

September 2009

Heil die Leser

As die nag so stil raak dat hy saggies in jou are suis, dryf jou diepste geheime geluidloos na die oppervlak om jou eie hart weer aan jouself bloot te lê—sy bedoelinge, sy verlangens en sy weemoed. Oral waar jy uit voeling met jou eie hart geraak het, heg die verlore stilte van die nag, wat uitgestrek in jou siel kom lê, jou met emosie en motiewe. Terwyl die wêreld slaap, word die ligte in die wêreld binne jou aangesit en weerkaats 'n flou liggie sy skynsel oor 'n landskap wat sy eie vrede met homself en sy omstandighede sluit. En met die mense of on-mense wat deur omstandighede in jou innerlike landskap gevestig is. My persoonlike ekonomiese insinking was te danke aan my eie conspiricy. Eiendom se valuta het eenvoudig só ver buite bereik van onsensitiewe mense geraak dat niemand sonder genoeg karakter-kapitaal meer in my kan belê nie. En plakkerskampe is uit. Die grond is herwaardeer en mense wat mors—met my emosies, my tyd, my talente en my goedgelowigheid—moet almal iewers anders gaan plak. Dié wat wel 'n stukkie eiendom bekom mag bly, maar volgens streng voorwaardes. Geen hoogmoedige skyscrapers nie, en díép fondasies moet gegrawe word—wankelmoedige stellasies verg te veel drama, tyd en emosie om op te ruim as dit ineenstort. Om te boer binne my grondgebied mag daar nie oorbewei word nie. My aarde het net soveel drakrag en ek weier om in 'n Karoo of Namib te verander. Grond is waardevol. En grond met water en weiding skaars in 'n ekonomie van gevoelige harte. Gaan kyk maar eers wat het voornemende kopers of beleggers op vorige eiendom gedoen, voordat jy kontrak teken. Vir almal wat hou van interessante afwisseling tussen digte ruigtes en sonnige grasveld of geurige fynbos, sal daar iewers plek vir asemskep wees. Onversigtiges, gulsiges en grypers wat net wil inpalm omdat dit agenda en nie 'n hartsaak is nie, of plakkers wat my grond as 'n maklike opsie sien, gaan almal net 'n los-’n-boodskap-antwoord kry sonder dat iemand ooit terugkom. 'n Bankrotskapsveiling van almal wat agterstallig geraak het met paaiemente in liefde en sensitiwiteit is nooit 'n slegte idee nie. Leë beloftes sonder dade laat skiet inflasie die hoogte in. Sodra die afgevrete en uitgetrapte grond herstel het, styg die waarde daarvan weer. So het my eie conspiricy 'n totale ineenstorting van die ekonomie in my eie hart veroorsaak. 'n Welkome resessie vir emosies wat kans kry om tot nuwe wasdom te kom. Die landskap is nou kalm—’n rustige skoon met mooi horisonne en verposings vol lafenis en belofte. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.