Februarie 2010
Heil die Leser
Sonder die bekendheid van allerhande dinge in my lewe wat soms deur sentiment oor jare bymekaargemaak is, soms deur die liefde van vandag wat my omring en ’n eenvoudige, dog intieme soort van emosionele geborgenheid skep, sou ek meermale ontwapen en gestroop voor my eie enkelwees moes vlug. Die lafenis wat ek put uit alles wat ek so graag in my hart en huis opgaar, bring troos in tye wanneer afstand, die dood of noodsaak my uitsonder vir 'n alleensessie. Gelukkig is ons sintuie onwillekeurig altyd besig om alles wat hulle inneem en ervaar in ons geheues te anker, waar dit met verloop van tyd ’n uitstalling word van lief en leed. Solank die vingers van my emosies kan streel oor herinneringe van oomblikke―ongeag hoé vlugtig―waar oogkontak in hartkontak omgesit het, voel ek aangepas, tevrede, meer as innig dankbaar en selfs bevoorreg en bederf. Alles onbenullighede wat op onsigbare vlakke gebeur, maar groot in seggenskap wanneer dit die weervoorspelling en die kleur van die uitspansel binne ons emosionele landskap bepaal.
Ons lewe vlugtig. Daarom mag ons nie vlak lewe nie. Vlak wortels is ’n vloek vir verhoudings. Veral jou verhouding met jouself. Besit jy jou eie hart? Wanneer laas het jy jou eie hart diep in die oë gekyk, omhels en daarmee in jou eie arms gedans totdat julle uitasem begin te lag oor al die onbelangrike fobies en onbevraagde hang-ups? Of sommer net omdat dit heerlik is om te lewe. Om te kan sien, te hoor, te ruik, te ervaar, te voel―vreude én pyn. Ekstase én ontsteltenis midde-in hulle volle impak. En oor die gemaklike natuurlikheid van jou verhouding met God binne jou verhouding met jouself.
’n Beker sonder inhoud het tog niks om te skink nie.
As daar ’n kwekery was waar ons dankbaarheid en begrip kon koop, kon ons die eienaar ompraat om 2010 af te skop met ’n reuse uitverkoping van hierdie twee kommoditeite. Of: koop geduld en kry deernis gratis. Dink net wat ’n wonderlike jaar gaan 2010 wees as ons almal ’n stewige voorraad van hierdie deugde in die arsenaal van ons persoonlikhede kan bêre vir die dag van besoeking. Jammer, liefde is alles uitverkoop vir Valentynsdag!
Teen die swaartekrag van onkruid is daar geen kitsoplossing nie. Moenie die akker waarop dit groei, natmaak nie. Veral die tong waarop die meeste onkruid so welig floreer.
Die oorgawe waarmee die somer onbevange sy lewenslus oordadig en met drif in groot maat opskep in almal se gemoedere waar die tafels van hulle harte gedek is vir ’n feesmaal, is vir ons ’n les. Die somer se waarde lê in wat hy gewillig is om te deel―sy warmte, sy nuwe lote, sy vrugte, sy baie son en die vrolike lied van voëls en paddas wat soggens en saans blymoedig hulle skofte werk. Ons waarde lê nie opgesluit in hoeveel ons het nie, maar in hoeveel ons bereid is om te gee. Dis ’n aftrek- en nie ’n optelsom nie. Trek af wat jy bereid is om van jouself te gee én weg te gee en bepaal die inhoud van jou geestelike boedel en die somtotaal van jou boedel as mens. Dis wat die somer ’n ryk seisoen maak. En miljoenêrs van almal wie se som ’n negatiewe antwoord het.
Groete
Amanda Kreitzer