Junie 2010
Heil die Leser
Herfswinde het stowwerige heimwee oopgewaai tot klassieke verlang. ’n Verlang wat begin het na myself. Want soms, net soms, voel dit of jy kontak verloor met die oorspronge van jou eie wese en voel dit of jou hart en sy deernis buite jou en nie binne jou is nie. In die soektog na jou diepste en waarste wese is die lugleegte waarin jou gevoelens beland, gestroop van bekende emosie. Die kortstondigheid en broosheid van alles stuur dan gedagtes. Beklemmend word die vraag na die sin van alles jou belangrikste, brandendste wonder. Die aftakel wat uit honger oë soek waar om sy onsimpatieke dors te les, ontvou helder in jou gemoed soos wat voorbeelde van ouderdom, siekte, agteruitgang, plooie, grys hare, kraakbeenlose ledemate en bleskopppe in rolstoele verby jou geestesoog paradeer. Belangrikheid verval in onbruik en onnut voor die oormag van verdoemende getuienis dat die erns waarmee ons ons lewens vol "moet hê's" en "moet doen's" prop, vermaak moet wees vir die onsigbare skare wat van altyd af toeskouers van die mensdom se angstige geskarrel is. Asof gebore met ’n horlosie en ’n leer in die hand, is dit die samelewing se selfopgelegde taak om soekers na die utopia van sukses se hande van kleins af te leer om ’n stewige greep om die leer te bemeester, met instruksies vol belonings vir dié wat dit die vinnigste en hoogste klim. Bo wag ’n pot goud, sukses, erkenning en, vir sommige, die hemel. So dra ons lankal nie meer ons horlosies om ons arms nie, maar om ons harte. Ons verhoudings word gevorm binne die kwaai wysertjies van sekondes wat haastig ons sentimente vorm en prioriteite misvorm. Poegaai gehardloop tussen afsprake en aansprake wat ons met sweepslae van die minuutwyser aanjaag na die volgende valbyl, verbrokkel ons lewens in duisende stukkies wat gefragmenteerd in ons siele probeer troos soek. In dieselfde maat wat ons die horlosie toelaat om ons lewens vir ons te lewe, in dieselfde maat verloor ons ons kompas. Kompas wat koers bepaal. Kontak met ons diepste self en sy behoeftes, én kontak met die natuur is die roete terug kompas toe. Sonder inagneming van selfone of horlosies het ons almal ’n afspraak met ons eie hart. Verlos uit die kloue van tyd en besigwees, word jy tydens so ’n ontmoeting met jouself weer oorspronklik. ’n Afspraak waar stilte jou enkel maak. Waar die tydloosheid van vistas vol berge en veld stofwolkgedagtes gaan laat lê op die bodem van jou wese op ’n uitgestrekte klamte wat by jou oë inklim en jou hart vol eenvoud saai. Jou kompas raak jou sif wat al die dringende rowers van sinvolheid afskep en drooglê, sodat nuwe insig en nuwe prioriteite dit wegwaai. Groete Amanda Kreitzer