Julie 2010
Heil die Leser
Wanneer die lewe jou aan jou hart gryp en nie aan jou skouers nie, raak jou tong stil en verloor jou oë tydelik uitdrukking omdat die seer binne 'n deksel op jou sintuie sit. Te verslae om te reageer word jou hart 'n stilte opgelê deur die onmoontlikheid van dit wat jou emosies moet verwerk. Diep verwond voel dit of jy tydelik kontak verloor het met jou hart en sy deernis. Elke omstandigheid het sy eie resep om trane meer of minder sout te maak. Daarom is 'n hart wat huil 'n eensaam en seer verhaal. Seer kan binne ons of buite ons gebeur. Word dit gelyktydig van binne én buite gestimuleer, het jy baie genade en houvas nodig.
Die seerste is wanneer trane in 'n bodemlose put in jou siel val waar dit verdamp sonder om te troos. Uitgestelde verwagting wat afloop in die lae plekkies van ons innerlike landskap, vorm oor tyd dammetjies wat na ons oë toe verdamp en verligting bring vir 'n droë hart. Aanhoudende seer brand deur jou hart en beland soos 'n brandyster op jou siel waar dit pyn se litteteken inskroei sodat jy nooit weer los van die trop loop nie, maar gemerk, behoort aan 'n skare wat hulle eie pad van pyn tot in dieselfde kraal geloop het. Die Regverdige Skeidsregter blaas sy fluitjie sag vir ons ore maar duidelik vir ons harte. Ofskoon onregverdige spel op ons harte soms langer aanhou as wat ons wil hê, weet Hy wanneer die seisoen ryp is vir verander.
Om jou hart ligter te maak help dit as jy bagasie afgooi. Bagasie kan verpak wees in verhoudings, omstandighede of in sagteware. Ons skryf elkeen self die program vir ons emosionele sagteware. Hoe ons op enige situasie reageer is daarom 'n keuse. As hóé ons reageer meer pyn veroorsaak as dit waarop ons reageer, dan werk ons met foutiewe sagteware. Solank as wat ons toelaat dat dit wat om ons of met ons gebeur ons emosies stuur, is ons 'n proefkonyn vir seerkry en produk van ons emosies. Emosies is die slagaar waar jy jouself kan doodbloei as jy nie ’n vaste basis het waarin jy hulle kan anker nie—’n bestemming binne jou wat groter en meer gesaghebbend is as enige invloed of mag buite jou. Of ’n ingesteldheid wat aan jou die vryheid bied om te kies hoe jy wil voel en hoe jy gaan reageer. Want die mens se laaste vryheid is die vryheid om te kies hoe jy wil voel, en daarom reageer. Al kon jy nie kies hoe jy wou lyk, waar jy sou bly en saam met wie, of binne watter omstandighede jy moet lewe en grootword nie, kan jy wel kies hoe jy al die tekortkominge in jou en die van almal om jou gaan hanteer. Onreg se frustrasie en hartseer se pyn kan jou net solank gevange hou as wat jy dit toestemming gee. Om uit te styg en bo-oor negatiwitiet te lewe is die voorreg van almal wie se emosionele sagteware met ’n lewenslange waarborg kom en wat nie “shut down” wanneer jy dit die nodigste kry nie. Die onmoontlikheid daarvan om pyn sinvol te verwerk maak elke roof daarvan wat uiteindelik gesond word en afval, 'n triomf, maar meer nog, 'n wonderwerk van genade en wannneer ons terugkyk, die dinamika waarbinne nederigheid en groei plaasgevind het—die ideale weerstand waarteen ons persoonlikheid en emosionele stamina hulleself kon fiks oefen.