Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Mei 2011

Heil die Leser

Mense wat te min kou en te vinnig sluk, geniet nie die smaak van hulle kos nie. Hulle mis die geur van elke hap en die integriteit van elke unieke aroma wat smaakkliere opgewonde maak en senuwee-impulse beveel om genotsensasie na spesifieke selletjies te stuur. Sonder hierdie ervaring raak eet net nog een van die pligte in ons lewe—’n klomp meganiese bewegings wat die naald van die skaal laat styg, terwyl die fyner waarnemings rondom voorbereiding, aansit, opskep, samesyn en die voorreg van oorvloed en verskeidenheid ongeïnterpreteer verlore gaan. Kleiner aksies word nie opgeneem in die weefsel van die oomblik nie; waardering vir nuanses wat laag op laag die atmosfeer in diepte anker, word saam met die oorskiet in die hond se bak gekrap. Dieselfde gebeur met ons dae wanneer hulle in te groot stukke afgebyt, te vinnig gekou, en stuk-stuk heel ingesluk word. Die geur van die oomblik, die aroma van die verhouding, die vogtigheid van dieper emosie en die salwing van ’n gevoel van versadiging wat bedoel is om wortels en legendes in ons dag te vestig, gaan by ons verby. Oppervlakkige stimuli wat glad nie in brandstof of boustof omgesit kan word nie, staan tou voor ons sintuie om beslag te lê op ons tyd en energie; ’n opwindende en aantreklike alternatief oorlaai met kits- en hitech-moontlikhede wat teen verstommende tempo ons daaglikse spyskaart oorrompel, én adrenalien waarborg vir spoedjunkies. Ons dokter alles met kitsoplossings en oorweeg nooit slegte spysvertering as oorsaak vir emosionele skete wat in ons harte pyn nie. Want tande wat stomp geraak het, sluk oomblikke heel in om onverteerbaar in ons gees te gaan lê. Ons gees moet ons impulse, ons verlangens, ons teleurstellings, ons vreugde en ons uitgestelde hoop verwerk en nie onder druk of spoed betekenis aan hierdie organiese prosesse gee nie. Daarom moet ons keer dat ons dae nie smaakloos, die een soos die ander, deur ons lewe hardloop sonder dat ons die ekstase van ’n uitgerekte oomblik in ons gees proe en die genoegdoening en heilsaamheid daarvan stadig teen ons persoonlikheid laat afgly nie. ’n Oomblik wat binne die beperkte grense van tyd sy eie swaartekrag genereer waarbinne die impak van ’n nietige paar sekondes die ewigheid agter ons én die ewigheid voor ons insluk, en die oomblik groter maak as die spasie in ons hart. ’n Oomblik waarbinne ons oorgemaak word om sagter, inniger en meer barmhartig te wees. ’n Baarmoeder-oomblik met ’n naelstring tussen ons harte en ewigheidsbesef wat ons voorberei vir die lewe, maar ook vir die dood. ’n Oomblik te groot vir jou hart om te verwoord wat nou sag in oogkontak lê. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.