Junie 2011
Heil die Leser
As jy die somtotaal van wie en wat jy is op die skaal van die nou en van die ewigheid sit, dan is weefsel en are niksseggend as dit kom by wat die naald van betekenis vorentoe laat beweeg. Die verpakking waarbinne elke mens opgesluit is, is presies dit—verpakking. Nie die beste slimmigheid kan die intrinsieke gewaarwordings van vreugde of hartseer so naby die slagaar van dit wat ons emosies laat bloei en ons hart verhef tot meer as orgaan wat bloed pomp, vasmaak nie. Dis hoekom ons hart nie ’n verjaarsdag het nie. Want hy is tydloos. Jonk in jare kan dit oud in ervaring wees, of oud in jare kan dit jonk in onskuld wees. En net dit wat in ons harte leef, ontsnap die dood. Uiteindelik is dit die dop wat afval wanneer ons sterf, wat die gees bevry van afhanklikheid en van alles wat besmet is met tydelikheid, die gees wat blind ’n pad vir ons hart moet ooptas. ’n Roete vol verposings waar sommige oomblikke so vol suurstof is dat ons hart eintlik snak na asem wanneer die geleentheid om weer ’n slag te kan diep asemhaal, spontaan opduik. ’n Oomblik waar die werklikheid tyd insluk en verteer tot bestanddele vir die lesse waaroor ons siel eksamen skryf. Lesse wat omsit in waarde en betekenis. Betekenis wat van blindheid genees. Waarde wat nietige oomblikke soms verhef tot ’n meesterstuk van tyd se vermoë om die grense van sy eie beperktheid in ons ingeperkte siele te verruim tot oneindig—binne die brose wisselwerking van gees en emosie wat hande vat om uit te reik na ons verlange om sinvol te behoort. En omdat ‘n mens net sinvol kan behoort binne ’n verhouding, moes jy eers veilig tuiskom binne jou verhouding met jouself. Dan word die verposingsoomblikke wat deur jou dag gesaai word, aanknopingspunte met jouself waar jy jou kan verwonder oor die impak van wrywing. Soms die wrywing van ons eie gees teen die oor van ons hart, soms die wrywing van ons verlede, ons keuses, ons drome, ons ergernisse, ons pligte, ons vrese, ons gejaagdheid. Op ergernisse wil ons liefs nie reageer nie en vrese wil ons saam met gejaagdheid verban. Omdat niks sonder afstand of perspektief akkuraat geïnterpreteer kan word nie, skep ’n oomblik waarbinne die grense van ons hart uitgebrei word, die moontlikheid vir suiwerder waarneming. Binne so ’n oomblik van heilsame gewaarwording kan ’n leeftyd van betekenis ontsluit word. Kan tyd en ewigheid mekaar in sekondes omhels as pasaangeër vir ’n nuwe ritme vir ons harte. Binne so ’n oomblik maak ons skatte bymekaar wat ons kan wissel teen behoortloosheid of wanhoop in dae van nood. Ons bestaan binne ons liggaam, maar ervaar binne ons hart. Na 15 jaar van werskaf naby die hart van Wamakersvallei is my taak as redakteur van Val du Charron lankal nie meer ’n plig nie, maar ’n spontane, vrywillige uitvloeisel van liefkry en liefhê. As liefde vir ’n hart doen wat gewig vir ’n klip doen, naamlik om dit op sy plek te sit, dan was die liefdesverhouding wat Val du Charron met sy lesers gehad het, eweneens ’n uitruil van liefde vir gewig, na beide kante toe. In sy waarste sin is Wellington se gemeenskap ’n uitgebreide familie waar deernis dikker loop as bloed. Dankie aan almal vir die lekker behoort—aan julle nuus, julle hoogtepunte, julle vreugdes en julle spesiale aanbiedinge. Die "wa" word lankal nie meer gedryf nie, maar gelei. ’n Aangename reis met wonderlike sielsgenote as medereisigers. Groete Amanda Kreitzer