Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Februarie 2012

Heil die Leser

Die beplanning wat net in die silhoeëtte van die berge rondom Wellington gegaan het, moes soveel fyn aanvoeling met kunssinnigheid en wiskundige simmetrie kombineer, dat ’n grondige dankbaarheid al is wat neerslag vind in my elke keer wat my oë spontaan die kontoere van die Hawekwas volg. ’n Ongekompliseerde beplanning wat ongeforseerd uitgeval het in sand en klippe en rotse totdat hoogte en diepte op ’n afstand dit van veraf eers laat vorm kry. Betekenis kry dit as jy deel raak daarvan. Wanneer méér as net jou oë dit absorbeer—wanneer dit teen jou gees kom lê en in jou siel vasskop. Stilte is die gereedskap wat dit daarkry; eenvoud van ingesteldheid die enigste kwalifikasie om aan die ontvangkant van soveel grootsheid verpak in natuurskoon te wees. ’n Feesmaal vir enige uitgemergelde materialis of tegnologie-junkie. Mits jy die ongerepte deurmekaar teenwoordigheid van bome en grond en gruiserige klippies en dwarserige takies [takkies?] behaaglik vind. Die skoonheid van ’n onbewerkte stuk aarde is intrinsiek meer vol stamina en lewe—organiese lewe wat, ongesteriliseerd, bloed en beweging adem—as ’n bewerkte, voorbereide stuk grond wat soos ’n fotokopie lyk van stereotipes op soortgelyke plekke elders in die wêreld. Tot in die natuur behou tuisgemaak en outentiek ’n rare bekoring en aantrekkingskrag wat ontbreek oral waar die kommersiële stempel reeds sy afdruk gelaat het. Die massamens het oorgegaan in massanatuur. Niks ontkom die dodelike voorspelbaarheid van magte wat duidelik onderlangs werk en ingestel is op wins ten alle koste. ’n Sameswering van die mens in stomme samewerking met die natuur wat nie ’n sê het in hoe hy gestroop word nie. Eers gestroop en dan geoes. ’n Oes sonder integriteit, sonder siel, sonder individualiteit. Die kern gemanipuleer om steriel in persoonlikheid voor sy spieël te staan en nie sy afskynsel te herken nie. Ons buig laag voor die nuwe meesters van wetenskap, gewete en welvaart. Ons gee ons lewens vir hulle. Ons gee die lewens van ons kinders vir hulle. Ons gee ons grond, ons oeste, ons vee—ons eienaarskap—vir hulle. Ons wíl dit gee. Ons wíl is heel eerste gegee. Wilde saad wat enige plek vrugbaar opslaan en hulleself spontaan weer saai sonder tussenganger is waar ’n voetpad nog ’n belewenis is. Waar diere agter geur aan wei, waar die wind graag speel. Verskeidenheid en andersheid staan nie stom hier nie, maar babbel verstaanbare dialekte sodat elke oor verstaan en elke gemoed iets kry om aan te peusel. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.