Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Maart 2012

Heil die Leser

Binne die klein kringetjie van elke hart is daar ’n kosmos. ’n Kosmos wat al die dimensies van die heelal daarbuite vertolk. ’n Kosmos waar vreugde en pyn reflekteer in onsigbare uithangborde, maar waar daar ook agterbuurtes met krotte én gesogde vooraanstaande eiendom is. ’n Mens bou krotte elke keer wat jy negatief op seerkry of wrywing reageer. En elke goeie daad en elke klein ontferming slaan so ’n krot plat. So is ons almal bouers. Aan ons eie emosionele strukture. Of mede-bouers aan mekaar se strukture. Onder die snoeiskêr van ander se tonge, verwagtinge of persoonlikhede kan baie in hoé ons [verstaan nie mooi nie] op die ou einde gevorm word, ons vervreem van ons eie wese en uiteindelik van ons voorafbestemde lot. Te moeg, te gejaagd, te betrokke of te moedeloos is ons later of so leeg getap of so verwronge dat ons eie kern - afgeslyt - nie meer kan opstaan nie. Al die gesnoeiery sorg dalk vir ’n ordentlike vertoon, maar sonder sprankel of siel en integriteit. Jy kan lang, skerp dorings groei om die flou straaltjie te beskerm, maar dit maak jou eie geurigheid ontoeganklik, meer nog vir jouself as vir ander. Leer eerder om rats te wees. Raak gemaklik met konfrontasie, verandering en wrywing. Soms ontstel die Here ons uit wie en wat ons was vir ’n goeie rede. Groei vasberade terug daar waar mense of omstandighede onnodig hard gesnoei het. Groei genoeg terug sodat die afstand tussen snoeiskêre en jou teer lote wyer en groter raak. Sorg dat jou sagte kante wat maklik kneus en gou verwelk, onsigbaar raak vir almal met skerp uitsprake en blinde insig. ’n Mens moet leer hoe om jou lewensbron weg te steek en jouself weerbaar te hou. En om nie dorings te groei nie. Want daar waar ons verwond is, of waar ons ander verwond, loop integriteit uit—liefhê-integriteit, mooimaak-integriteit en versorg-integriteit. Ons is almal afsplinterings van God se groot plan en spartel soms al sukkelende om die plekkies en stukkies te kry waarbinne ons in konteks heel word in onsself en heel word in ons omstandighede. Wedersydse genaakbaarheid is die gom wat flenters én eilande weer bymekaar bring daar waar dit so bestem is om ons eie werklikheid weer sinvol te maak. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.