Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

November 2012

Heil die Leser

Daar is byna niks wat nié veredel onder die aanslag van druk en tyd nie. Dit is hoe alle kosbare edelgesteentes gevorm word. Persoonlik kan ons van baie van die druk in ons lewens ontslae raak, maar tyd kan geen sterfling afskud nie. Tyd staan buite bereik van horlosies. Dis ’n wet wat, onafhanklik van die lang wyser, meedoënloos voortmarsjeer, vasgemaak in die uitspansel—in sy son en maan se seisoene. Geld kan die druk in ons lewens aansienlik verminder, want hoe meer geriewe jy kan bekostig, hoe minder druk sal jy ervaar. Die waarheid bly egter ’n tergende paradoks. Want die luukse van meer tyd waarborg nie noodwendig meer karakter wat omsit in edel metaal nie. ’n Té maklike bestaan waarborg eerder die teenoorgestelde. Dalk omdat meer tyd vir ontspanning nie benut word vir aktiewe ontspanning nie, maar weer eindig in passiewe onspanning voor TV- of rekenaarskerms. Kinders wat nooit die rou van druk-ongerief teen hulle hande of aan hulle lyf voel skaaf het nie, sal nie beskik oor die nodige innerlike kwalifikasies wanneer die aanslag van ouderdom of die uitdaging van die oomblik op sterker staal aanspraak maak nie.

Skeidslyne is besig om nouer en nouer te raak tussen generasies soos wat nutteloosheid na beide kante toe in saggemaakte slagoffers sny. Beide hierdie slagoffers (van die grootword- en oudword proses) is randeiers op die geurigheid van die lewe waar die werklikheid wemel van vaardighede en verantwoordelikhede ingeoefen en vasgelê in souterige, stowwerige vuilwerk en skoonwerk.

Soos die swaartekrag van ouderdom sy eie uitmaakspeletjie speel, kapitaliseer die skoonheidsindustrie reusagtig op hiedie boelie se vreesaanjaende asem in die nekke van sy slagoffers. Want tyd wat terug weerkaats in spieëls kan net agter slot en grendel gehou word deur duur preparate en leë beloftes. Nie dat iemand oneerlik is nie. Dis was net nooit deel van die waarborg by geboorte dat image saam met sukses en status arriveer en vir altyd sal hou nie. Tussen verjongingstegnologie en vermaaklikheidstegnologie raak die generasiegaping gelyktydig nouer én wyer. Albei hierdie skynwerklikhede is sonder inhoud of wortels. Geanker in dit wat sigbaar, broos en tydelik is, kan geloofshande nooit die groter onsigbare werkligheid eien en dit intrek totdat dit deel raak van ’n lewe waar lewensvreugde spontaan gebeur sonder dat ’n adrenalien-high dit heeltyd moet laat inskop nie. Eenvoudige take soos wasgoed ophang en afhaal, skottelgoed was, klere stop, blare hark, onkruid uittrek en stoep vee sit alles om in druk wat veredel. ’n Funksionele werklikheid wat die siel bevry solank hande besig bly. ’n Gewone, lae adrenalienvorm van besigwees wat stamina in ouderdom én jeugdigheid inbou—tyd en druk se belegging wat rente trek oor ’n leeftyd in opbrengste vol karakter.
Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.