Februarie 2013
Heil die Leser
Een dag na die ander vou liefliker oop as die vorige. Die somer se uitspattigheid lê soos ’n minnaarskus op berg, blou en wingerd; sy liefdeswarmte vol emosionele energie wat spoed in somerlonge blaas om groei in alle rigtings in ’n uitbundige warboel van stingels en blare aan te ja. Dragtige oeste wat besig is om ryp te word in soet korrelvrugwater se belofte vermenigvuldig ooglangs en stamlangs—die natuur se instink op hoër bevel wat getrou aan instruksies binne saad, vrug dra – die een tienvoudig en ’n ander sestig- of honderdvoudig; ’n geestelike wet en voorbeeld vir hoër wesens soos ons wat sukkel om hulle eie natuur te begryp. Ons, wat só graag die intriges van die binneste kamers kompliseer met dogma en beleid, besef nie dat dit makliker sou wees as ons eers die beker aan die binnekant skoon- en mooimaak, voordat ons dit buite probeer doen.
Wat ’n dorp en gemeenskap lelik maak, is nie noodwendig die aanwesigheid van onkruid, rommel, straatbewoners of Chinese winkels nie, maar eerder die afwesigheid van goeie smaak en goeie gevoelens. Goeie smaak is ’n aanleg en gawe, maar goeie gevoelens diskrimineer nie en vra geen kwalifikasies nie. Dis binne bereik van enige ingesteldheid. As jy jouself oefen om lank genoeg en gereeld genoeg met volle emosie aan enige iets te dink wat aangenaam is, sal gehalte gevoelens jou metgesel raak en jou lewensbron inkleur.
Ongelukkige gevoelens lei tot apatie en as dit verder ontsteek, tot ’n aansteeklik kritiese en aanvallende gees wat teen die tyd dat dit gewoonte is om eerder te kla as om te waardeer, reeds die persoonlikheid gesaboteer en in ’n geharde, volslae sinikus verander het. Behalwe dat dit jou spoed breek, plaas dit ’n rem op jou verhouding met jou eie hart. Wát jy dink is gevaarlik, want dit wat jy oor en oor dink, is wat jy glo. Presies soos gewoontes wat ons oor en oor doen. Wat ons glo en doen, hou geen verband met die waarheid nie. Die waarheid verskil in praktyk van die waarheid in teorie, omdat ons dit onderhewig aan persepsie en dus subjektief maak.
Mense wat nie geloof het in hulle dorp of land se potensiaal nie, ervaar hierdie geloof as ’n werklikheid én waarheid. Hulle praat en lewe dit waar. Maar dis gevaarlik, want dit wat jy praat en lewe, sal die hele tyd méér word en dit wat jy ignoreer, sal die hele tyd minder word. Jou vaste geloof in enige slegte opinie sal jou waarheid word en werklik manifesteer—dis verreweg beter om ongeloof te hê in hierdie dinge. ’n Mens kom nie op lig af terwyl jy besig is om die donker te analiseer nie; jy kan ook nie vorentoe beweeg solank jy hamer op wat ís nie. Alleen ’n passievolle verhouding met dit wat níé is, sal die energie van die oomblik losmaak en jou vorentoe vat. Wat agter is, is geskiedenis. Gister, selfs vanoggend en nou net, is geskiedenis. Ons kan nie met dieselfde energie werk terwyl ons oplossings beding, as die energie waarmee gewerk is om die probleem staan te maak nie.
As ons enigsins mooi in ons gemeenskap wil vestig, sal ons eerstens geloofwaardigheid vir ons motiewe moet skep. Eerlike opregtheid sal deursigtigheid moet vestig en die wegspringblokke op die regte plek sit. Entoesiasme en spoed beteken niks as jy op die verkeerde plek wegspring nie. Die lewe se ingeboude skeidsregter sal sonder om ’n fluitjie te blaas, verskuilde agendas en egoïsme penaliseer.
Ons dorp het 10 000 reputasies, maar net een karakter. Ons geskinder oor ons dorp hou dit vas aan ’n persepsie en slegte reputasie waarvan dit nie kan ontsnap nie. Kom ons lig die merkie. Kom ons begin dink anders—oor onsself, van mekaar en van ons dorp. Kom ons help die dorp om ontslae te raak van sy eie persoonlike geskiedenis en stigma wat deur ons eie uitsprake geskryf is. Die oomblik as ons anders dink, gaan ons anders praat en uiteindelik anders voel. En dis die vóél wat belangrik is. Dis die vóél wat die paradigma dermate skuif dat die naald eindelik omswaai. Dis dán dat gebede beantwoord word, dat hoë kontraste begin versag, dat momentum inskop en dat harmonie genoeg groefies vind om in te sinchroniseer. Dan sing ons nie omdat ons gelukkig is, maar ons is gelukkig omdat ons sing. Groete Amanda Kreitzer