April 2013
Heil die Leser
Die waardige kalmte van ’n wolklose sonsondergang vorm sy eie band van deernis met jou gees—’n woordlose gesprek wat maan teen onrus en haas. ’n Samesyn tussen mens en natuur vol belofte en geurige voedingswaarde. Broodnodige krummels vir die post-moderne mens wat elke oggend opstaan om van voor af in dieselfde groef dieselfde slagysters af te trap—gestel deur sy horlosie en dagbeplanner, en alles en almal waarvan hy nie hou nie.
Gejaagdheid skep spanning wat vrees in mikro-dosisse in ons lewe afskei; subtiel ondergrawe dit ons fondasie en die pilare waarop die strukture van ons lewe tot rus kom. Uiteindelik blus hierdie aanhoudende byvoeging daarvan die vuur in ons hart sodat ons later weinig die soet opwelling van ons eie menslikheid spontaan voel opborrel en oorspoel. Te haastig en te besig laat ons nie onsself toe om die volle gewig van ons hart te voel nie wanneer dit teen ons gees kom lê op soek na ’n oomblik van betekenis.
Om naby jou hart te lewe, is ’n kuns wat aangeleer word, nadat ons dit afgeleer het. Hoe meer jy dít regkry, hoe meer skakeltjies vorm jy met jouself wat jou weer aan jou eie oorsprong én aan jou mees geseënde roeping en stemming vasmaak. Hierdie skakeltjies, wanneer hulle kontak maak, vorm ’n lewendige kragdraad hemelwaarts wat die dinamika van onrustigheid neutaliseer en omkeer. Dan begin jy te rendezvous met wie jy werklik is—voordat werk, kinders en die impak van huwelik en die samelewing jou van jouself vervreem het. Want die dualiteit van ons aardse bestaan slyt sy eie groef op die oopgetrapte roete tussen wie ons veronderstel is om te wees en wie ons mettertyd geword het. Elke keer wat ons dit regkry om nader te beweeg aan die radius waarbinne beskikbare gevoelens soos lankmoedigheid, goedheid en vriendelikhied wemel, ervaar ons hoedat die hoë kontras tussen baie goed voel en baie sleg voel, net ’n gedagte ver uitmekaar is. Net een gedagte terug of een gedagte vorentoe vat jou weg van die aantrekkingskrag van negatiwitiet.
Wég van jou hart se interpretasie van die lewe verdwyn liefde én konteks. Want sonder hart word almal potensiële vyande en is die lewe een groot wedywering. Net aanhoudende, aanmekaar gerygde hartsoomblikke bring hoop weer naby ons lewensarena. En hoop is die fynhout wat toelaat dat die groot stompe in ons hart weer vlam vat—warmte wat geloof en liefde toelaat om te gedy.
Om jouself toe te laat om te rendezvous met jou eie hart se deursigtige oomblikke, is om genade in jou eie oë te vind. ’n Genade wat jou toelaat om van die etikette om jou nek en die medaljes op jou bors (wat deur jouself daar geplaas is) ontslae te raak. Ons aardse vlammetjie brand kortstondig en broos, ongeag hoe helder soms. Wurms is nie uitsoekerig nie, so waarom sal ons die lewe kompliseer as die dood—die finale—gelykmaker—ons nie toelaat om terug te praat of ons die luukse van ’n laaste uitspraak gun nie. In eenvoud van hart lê die geheim vir ewigdurende geluk. Dit is ’n ingesteldheid, maar ook ’n keuse—baie keer elke dag en ontelbaar oor ’n dankbare leeftyd. Groete Amanda Kreitzer