Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Februarie 2017

Heil die Leser

Die ritmiese herhaling van die lewe se siklus intervalle maal in sirkels om en om deur ons dag totdat diep groewe soos vlak karaktertrekke tyd se spore in ons bestaan deponeer. 'n Intieme hand-om-die-lyf dansmaat wat sy sirkelpassies oor ure en tussendeur minute vleg sonder dat jy agterkom jou eie sirkeltjies raak kleiner terwyl dié van jou dansmaat konstant bly. Uitasem gesukkel om by te hou, besef jy later dat tyd die draer is van lesse wat ons moet leer wat, indien ons dit nie doen nie, voorkant toe herhaal. Net meer intens.

Hoe ligter jy trap om nie jou eie foute te herhaal en hoe minder geheg jy raak aan die wysers se sirkelspel, hoe beter is jou kans om die benoudheid van sy kortwyser se kleinerwordende sirkels met ligte tred tegemoet te gaan. Spoed en sukses gooi jou nie sommer van balans af omdat jy geleer het om die inhoud van jou oomblik te anker in betekenis wat gravitas aan jou dag—uiteindelik jou lewe—gee.

Deernisvolle wisselwerking met jou oomblik vestig sagte grense wat verwyte uit die verlede (met sy foute) en neurose vir die toekom (met sy vae onbekendheid) weghou van jou hart. Drif vir die dag wat sy oomblikke behaaglik uur na uur aan jou toevertrou om 'n sensitiewe handeldryf tussen die wêreld in jou en die wêreld buite jou te bewerkstellig, drup inspirasie in jou geestelike bloedstroom wat jou 'n deelgenoot van die ewigheid maak—immuun teen tydelikheid.

Alle beperkinge word ontneem van hulle brutaliteit omdat jy gemaklik raak met die dualiteit van probleme. Geestelike insig gee konteks aan uitdagings en jy weet dat probleme nooit die laaste sê hoef te hê nie—God het die laaste sê.

Ons benoude identifisering met die wysers van die horlosie is maar net 'n manifistasie van ’n vlak verhouding met onsself, met ander én met God. Ons tree in gesprek met mekaar en God asof dit 'n transaksie is in plaas van 'n uitreik van ons siel na betekenis en genesing. Hoe dieper jy jou eie gewaarwording van deernis beleef, hoe dieper sal jou insig in ander se lewens wees. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.