Mei 2017
Heil die Leser
Die onrus in ons gedagtes wat tot tweespalt in ons harte lei, is die plek waar skaarstes gebore word en verrys uit die bar aarde van onvergenoegdheid. Ons gedagtes se betrokkenheid by persepsies—waar of onwaar—is wat ons weghou van begeerde resultate. Gedagtes se invloed op ons, hulle gehegdheid aan en geneigdheid tot alles wat negatief is, skep en hou hierdie werklikheid in ons lewendig. Vir ons gedagtes is vrees 'n refleks aksie soos wat dit refleks vir ons hart is om bloed te pols.
Maar hierdie dinamika van vrees is egter nie waar ons hart tuis voel nie Dit is nie die hart se regte adres nie. Ons hart is geskep om in liefde te anker en daar te lewe. Daarom, as ons lewe met lewe wil voed is dit noodsaaklik om ons gedagtes weg te stuur van toksiese invloede, want dit is presies hier waar die samelewing besig is om op 'n senuwee ineenstorting af te stuur.
Dit is in ons hart waar ons leer om liefde te split—baie vir almal wat maklik of net soos ons is, minder vir die moeilikes. Dit is ook hier waar ons geloof diskrimineer om in ongeloof te ontaard. Dit is 'n warm-koud speletjie. Beweeg jy weg van jou eintlike adres voel jou hart swaar, beweeg jy terug na liefde, val die boeie af en voel jou hart lig en vry. Keer warmte terug.
Ons gedagtes kan nie anders, maar sal altyd vashou aan dit wat ons glo die waarheid is. Daarom is die skoonmaak van ons eie integriteit die eerste stap van 'n terugkeer na ons hart se regte adres en ons ware self. God wil alles wat ons vra vir ons gee, maar die adres waar hierdie versoeke afgelewer word is VREDE. En vrede regeer net wanneer ons ons eie hart toelaat om in sy eie waarheid te lewe.
Die vrede wat alle verstand te bowe gaan, wat keer dat ons hart ontsteld raak, is dieselfde vrede wat die wonderwerk bring. Ons dink verniet ons sal vrede ervaar sodra ons ons perfekte wêreld gekry het. Oorvloedige vrede is die oorsaak, nie die gevolg. Elke gedagte is 'n gedagte wat voorkant toe die oorsaak van 'n gevolg is. Vrede is dus 'n keuse. Bewustelik en elke dag. 'n Ingesteldheid wat voor loop om jou gedagtes te lei. Jou wegspringblokke moet op die regte plek staan. Groete Amanda Kreitzer