Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Junie 2017

Heil die Leser

Geordende waardes wat nog altyd ’n vaste keerpunt gehad het waarnatoe dit kon terugkeer wanneer daar 'n detour in die verkeerde rigting geneem was, blyk iets van die verlede te wees. Baie subtiel is hierdie anker wat die behoud vir 'n Christen konsensus was, afgewater en uiteindelik vervang. Ons verbasing en afgryse met dit wat ons ervaar én geërf het in reaksie op waardes wat deur onsself gesaai was, se oes is maar net 'n terug weerkaatsing. Met ander woorde 'n reaksie en nie 'n aksie nie.

Ou metodes van oplossings soek gaan ons hierdie keer niks baat nie. Die dinamika van probleme wat ons nou in die gesig staar het te veel verander. Ons het sedert die epidemie van degeneratiewe siektes geleer dat gesondheid nie aan die dokter oorgelaat moet word nie, maar dat dit wensliker is as jy self verantwoordelikheid daarvoor aanvaar deur pro-aktief te wees en 'n gesonde leefstyl aan te kweek—eerder as om te wag vir die diagnose en dan die dokter te nader om van die simptome ontslae te raak.

Wat waar is van die enkeling is waar van die kollektiewe enkeling, die gemeenskap. Die liggaam genees die beste wanneer dit detoks. Medikasie kan simptome (gevolge/reaksie/karma) tydelik suksesvol onderdruk maar die onderliggende siektetoestand sal altyd weer terugkeer.

Hoe detoks 'n gemeenskap. Dieselfde as ’n individu. Raak ontslae van alle onsuiwerhede in die kollektiewe geestelike bloedstroom. Wellington is nie bestem as 'n plek vir moorde of om die setel vir dwelmhandelaars te wees nie. Hierdie dorp is sedert sy ontstaan geroep, toegerus en gesalf om te genees—geestelike medisyne te wees. God se apteek. Is dít nie miskien die rede hoekom die aanslag om Wellington van sy bestemming en roeping weg te vat met soveel intensiteit toeneem nie? Hierdie spanningslyn is besig om op te bou na 'n vooruit beplande cresendo wat God se grootste deurbraak wil aankondig—’n koninkryk strategie wat veral deur ds Andrew Murray op vaste koers gestuur is om in ons eie dag en tyd die elikser te word om die grootste siekte van die oomblik wonderbaarlik te genees. 'n Triomf van Lig oor duisternis. Die dorp se skaamtelose eien van sy identiteit wat met oorgawe gewortel in vaste oortuiging, dit uitleef en verkondiging. Omdat die intiemste waarheid van die genetiese samestelling en alle deposito’s daarvan in die bloedlyn altyd 'n manier sal vind om ons in te trek tot daar waar dit die effektiefste en suiwerste funksioneer.

Daar is níé meer kwaaddoeners as as wat daar goeie mense is nie; daar is níé meer mense wat haat en vrees as wat daar mense is wat glo en wat lief het nie. Die enigste verskil tussen hierdie twee groepe is dat die wat vreesagtig is, bomme plant, kwaad stig of liefdeloos is, dit met oortuiging doen—Conviction is a force multipier!

Dit is tyd dat ons detoks. Want tensy ons weer ons eie gesondheid terugkry (alles bely wat tussen God en ons en ons en ander staan) sal ons soos 'n patetiese plant sonder wortels wegskroei voor die flou hittetjie van 'n droogte, 'n deurmekaar regering, 'n swak ekonomie, booswigte of doodgewone mense wat in die straat by ons verby loop, ontneem van enige “impulse control”. Ons het hulle grootgemaak, vir hulle skoolgeld betaal—hulle gevorm of gehelp vorm—maar iewers was daar 'n ingeboude swak skakel/skakels. Sou dit al die bloeddorstige speletjies en video’s wees wat ons as “nanny” gebruik het terwyl hulle in hulle sagte vormingsjare was? Wie weet. Of dalk ons eie uitsaai van vrees en ons geloof dat alles wat verkeerd kan gaan, sal gaan... Ons kan ons gedagtes aanwend om of 'n negatiewe of 'n positiewe oes te skep, maar ons kan nooit die gedagtes se vermoë om te skep, neutraliseer nie. God gaan nie sy eie geestelike wet van saai en maai saboteer nie.

Dit is tyd dat ons nadat ons diep en eerlik selfondersoek gedoen het, die streep trek. 'n Duidelike streep wat sê: Ons vat ons atmosfeer terug; ons vat ons verbondskinders terug (en ons bely in skaamte met boetedoening dat hierdie dorp veel meer as sy kwota gebroke seuns en dogters die wêreld ingestuur het met 'n waardelose én verwarde seksuele identiteit agv misdrywe teen hulle gepleeg); ons vat verantwoordelikheid vir die studente op ons dorp wat híér moes kom studeer om vir die eerste keer dwelms te gebruik. Leer by ds Andrew Murray hierdie les: Sonder rolmodelle stuur jy jou jeug leierloos die toekoms in—skaars ’n toekoms vir hulle of vir jouself. Dit was kinders en húlle sieleheil wat hom aangegryp en inspireer het tot aksie. Nie die pragtige vallei en sy wonderlike natuurskoon potensiaal nie! Laat ons hierdie roeping en salwing opnuut by hom optel.

Karma het kollektief gedraai. Individue boet nou vir die karma van 'n gemeenskap. Pinkster is hier. Kom ons bring die Lig na die duisternis en nie meer andersom nie. Gesondheid is die afwesigheid van siekte. Siekte is nie die afwesigheid van gesondheid.

Dit is hierdie maand al 22 jaar dat Val du Charron nog steeds die voorreg geniet om ’n dierbare vallei en sy mense te dien—meestal met woorde. Dankie aan al die liewe lesers en adverteerders. Ek groet u met ’n tradisionele Navajo gebed, genoem “The Beauty Way.” Iets moois en profeties toepaslik vir ons om vir ons vallei voor te bid, te glo en voor saam te stem. In beauty I walk With beauty before me I walk With beauty behind me I walk With beauty on my left I walk With beauty on my right I walk With beauty above me I walk With beauty below my I walk With beauty within me I walk With beauty around me I walk It has become beauty again

Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.