Augustus 2017
Heil die Leser
Die sag-soet geborgenheid wat luier binne die onegalige drup-val van Kaapse misreën vestig 'n gerustellendheid wat alles binne die omvang van 'n kamer of 'n hart aan hierdie luisterryke ervaring heg. Die reën se eie aanspraak op ervaring—die intrek van menslike emosie om sy eie ervaring te verdiep. ’n Ervaring wat elkeen van ons op uiteenlopende wyse ervaar.
Vir die haastige 'n rede om die sambreel te onthou; vir die bekommerde 'n rede tot dankbaarheid; vir die sensitiewe 'n rede vir bepeinsing en oorgawe aan die oomblik. Een insident, uiteenlopende interpretasies.
Die skeidsregter wat sy fluitjie blaas kry dieselfde uiteenlopende reaksies op hierdie skril uiting van gesag wanneer dit die werklikheid skielik onderbreek. Die wye spektrum vanaf verligting tot verbasing of dalk woede word meteens die speelveld waarop emosionele ervaring dan uiting vind.
Hoe meer vasgevang jy in die stoflike dimensie is, waar jou vyf sintuie jou emosionele ervaring stuur en beheer, hoe meer gefasineerd sal jy wees met drama. Want die eendimensionele persepsie van die sintuie gedy op dit wat vlak/oppervlakkig is. Hierdie refleksgedrag van die siel is 'n aanstoot vir die gees.
Die gees voed uit die ewigheid met 'n onversadigbare aptyt vir tydloosheid. Met ander woorde die stoflike of sintuiglike sal onverteerbaar daarvoor wees. Die gees moet ondersteun word met die waarheid—daarsonder sal dit swyg. Want sonder die waarheid kan integriteit nie vestig nie. Geen aanname, geen profesie en geen intuisie sal die toets van tyd slaag sonder integriteit in die draer daarvan nie. Alle selfmisleiding berus hierop. Die waarheid in jou hart en die waarheid in jou gedagtes moet een word en harmoniseer met die waarheid in jou optrede. Dit vereis 'n selfondersoek waaraan ons onsself daagliks moet onderwerp. Dit is 'n maatstaf waaraan ons alle nuusdraers en die motiewe van almal wat aanspraak maak op ons geld, tyd en energie, moet meet.
Of dit 'n individu of 'n gemeenskap (kollektiewe individu) is, die geestelike insig en volwassenheid van daardie persoon/groep sal altyd blyk uit hulle selfgeabsorbeerde intensiteit met dit wat tydelik en banaal is. Dit is 'n goedkoop manier van lewe. Want jou eie gees hoef nie die prys te betaal om toegang te kry tot beter insig verkry uit uitsig. Begrip, minsaamheid en erbarming is ontoeganklik en nie kommoditeite op hierdie vlak van lewe nie. Die drange van die vyf sintuie is die enigste opsies uitgestal in die winkelvensters vir die siel. Wat anders kan jy verwag as jy besluit om op die grondvloer vir die res van jou geestelike lewe te bly. Al wat jy sien is jou bure. Stap jy buitentoe sien jy ook net mense. 'n Bevange werklikheid gefokus op die intriges van alles agter toe deure.
Hoe meer jy/die groep dit regkry om in gehoorsaamheid aan hemelse opdrag jou/julle gedagtes te rig op hemelse werklikhede, hoe minder raak die gom en aantrekkingskrag van die sintuiglike en oppervlakkige. Detail verloor sy impak en patrone wat belangrik is, word duidelik. Soos in die geval van hoe hoër jy op beweeg in 'n gebou, hoe verder en meer kry jy te siene. Persone op die grondvloer het geen idee van die see, berge, woude of moontlikhede van die onmiddellike omgewing nie. Die rede, hoogte.
Ons sal 'n bewustelike keuse moet maak as ons die grondvloer (van insig) wil verlaat om ons eie sowel as ons gemeenskap se ervaring hoër te vat (na die Penthouse op die heel boonste vloer) waar uitsig 'n gegewe is. Maar dan sal ons eie waarheid 'n uitgemaakte saak moet wees. Ons dorp se waarheid ook. Hierdie reis sonder afstand gebeur tussen jou hart en jou gedagtes. Dan sal ons met ’n geestesoog die vistas wat ons dorp omring, in geloof sien. Hier sal die huur baie duurder wees maar dit waarborg rus en eenvoud omdat die gedruis van die massa en goedkoop vermaak wat jou tyd mors, nie die huur kan bekostig nie. Jy laat dus hierdie tyd morsers agter. Jy is gevrywaar teen emosionele inbrekers en alles wat jou leeg tap daar waar die oorspronge van jou geestelike lewe is.
Die genadige erbarming wat skuil in 'n sagte misreën is dieselfde genade wat in harte moet uitsak om dit te verlig voordat hemelse insig ons hoër neem. Ons moet eers die geestelike terrein van ons dorp voed sodat beter immuniteit die infeksie kan stop en patogene nie meer 'n vatbare landingsplek kry nie. Dan sal ons die wonde van ons dorp moet verbind sodat dit nie meer ooplê vir brommers om op te sit nie. In plaas van onsself toelaat om deel te raak van gesprekke wat hierdie dinamika nog meer vasmaak in die geestelike aarde van ons dorp, verklaar ons dit wat ons vanaf die Penthouse besigtig....vistas, moontlikhede en nogmaals moontlikhede.... onsigbaar vir almal op die grondvloer... Luister na hier deernisvolle gebed (The Sea) van Michel Quoist wat dit so pragtig verwoord:
Lord, I saw the sea attacking the rocks, sombre and raging. From afar the waves gained momentum. High and proud, they leapt, jostling one another to be the first to strike. When the white foam drew back, leaving the rock clear, they gathered themselves to rush forward again.
The other day I saw the sea, calm and serene. The waves came from afar, creeping, not to draw attention. Quietly holding hands, they slipped noiselessly and stretched at full length on the sand, to touch the shore with the tips of their beautiful, soft fingers. The sun gently caressed them, and they generously returned streams of light. Lord, grant that I may avoid useless quarrels that tire and wound without achieving results. Keep me from these angry outbursts that draw attention but leave one uselessly weakened. Keep me from wanting always to outstrip others in my conceit, crushing those in my way. Wipe from my face the look of dark, dominating anger. Rather, Lord, grant that I may live my days calmly and fully as the sea slowly covers the whole shore. Make me humble like the sea, as, silently and gently, it spreads out, unnoticed. May I wait for my brothers and match my pace to theirs, that I may move upward with them. Grant me the triumphant perseverance of the waters. May each of my retreats turn into an advance. Give my face the light of clear waters. Give my soul the whiteness of foam. Illumine my life that it may sing like sunbeams on the surface of the sea. But above all. Lord, may I not keep this light for myself, and may all those who come near me return home eager to bathe in your eternal grace. Groete Amanda Kreitzer