Oktober 2017
Heil die Leser
Die dae word langer in geurdeurdrenkte warmte wat swaar onder jou neus kom lê. Bloeisels se onbeheersde aanspraak op die seisoen sowel as hulle unieke interpretasie daarvan dwing jou meermale tot oorgawe aan oomblikke vol aromatiese waansinnigheid.
Die ironie van tyd (ons tyd) ewigheid (God se tyd) wat soos 'n vingerafdruk in eindelose herhaling rondom ons dupliseer, reflekteer 'n helder afskynsel daarvan in die kom en gaan van seisoene. 'n Protokol wat effektief bly funksioneer sonder enige bydrae van ons kant af. 'n Dinamika waar die landskap vervang word en die ekonomie daarvan sy eie paradigma skuif ondergaan. 'n Gehoorsaamheidsdaad wat op blinde geloof staatmaak vir hoër temperature.
As leermeester steek die natuur haar lesse in sagte lagies weg wat lyk en ruik na poetry om dit makliker verteerbaar vir ons te maak. In Hoër opdrag het ons haar diensbaar gemaak aan ons, maar haar gebrek aan artikulasie maak dit vir ons maklik én moontlik om haar te misbruik, selfs te vernietig. Staan ons toevallig by geleentheid saam met haar stom oor die onvoorspelbaarheid of wispelturigheid van haar optrede, roep ons die hulp van God of gode in. Tempels en altare oral op haar bodem staan as plekke en simbole van onderhandelinge vir beter resultate. So het die mensdom God begin sien as die tussenganger tussen homself en slegte goed en het God die reputasie begin verdien as iemand wat goed is wanneer dit goed gaan maar doof is wanneer dit sleg gaan.
Die onbarhamartigheid van 'n enkeling wat die balans van die kollektiewe enkeling beinvloed is 'n optelsom wat altyd sy effek na die oppervlak van ons bestaan sal stuur. Dwing die sommetjie ons tot op ons knieë sal ons sover gaan om ons wapens neer te lê. Maar die begeerte in ons hart om dood te maak, steek ons sorgvuldig weg. Dit kan herken word wanneer woorde eerder soos glassplinters as sy op die oor val. Ons gemaksone met godsdiens en ons gesofistikeerde omgang daarmee skep die teelaarde 'n veilige prototipe van bekeerde.
As jy net 'n verkoue het, hoef jy veel te doen om gesond te word nie. Klein veranderinge is nodig. Lei jy aan 'n terminale siekte beter jy alles in jou vermoeë doen om buite gevaar te kom om gesondheid te verseker. Daarom kan ons nie 'n ligte ommekeer bekostig nie. Ons moet ons harte lig en skoon kry. Ons moet baie vergewe, almal vergewe, aanmekaar vergewe en diep diep diep vergewe....dit is tyd vir 'n nuwe geestelike seisoen. Groete Amanda Kreitzer