Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Februarie 2018

Heil die Leser

Die menselike psige is ’n opgaarplek vir so baie gedurende ’n leeftyd. Kindertyd se vreugdes en gewaarwordinge spoel oor in die reservoir van tienerwees om ’n ervaring en uitkoms te verseker wat kort voor lank die geestelike DNA van die jeugdige volwassene beinvloed en affekteer. Tyd wis die onsigbare grense wat mettertyd in verdwynende bakens opstapel so vinnig uit dat die middeljarige weldra stoei met die werklikheid van sy eie herinneringe maar veral met die onwerklike aanslag van tyd wat soos ’n infeksie teisterend elke besluit van jou dopgehou het en jou gebring het tot waar jy nou is—pap gehardloop agter die lyntjies in jou dagboek of blokkies op jou kalender, sonder ’n vae begrip van hoedat baie van dit ooit gebeur het want jy ervaar ’n mistige afwesigheid in dele van hierdie ervaringe ofskoon jy die hoofrol in meeste van die dramas vertolk het—’n onbewustelike medepligtigheid.

Die tydstroom van ons eeu genereer ’n spoed wat onmiddellik én oral geimplementeer word en sy slagoffers met die druk van “send” onder die vleuel van ’n virtuele dinamieka intrek waar almal gelyktydig tromop geloop word met wat ook al waar gebeur. Hierdie onmiddellike, voelbare inspraak in ons lewe wat belangrike sowel as onbelangrike gebeure in ’n japtrap deel van ons gedagtes maak, skep ’n onrustigheid en fragmenteer ons siele. Ons word geforseer om vlak en wyd te dink en die klein dingetjies wat veronderstel is om ons gees diep te anker sodat God se tyd (ewigheid) kans kry om penwortels te groei, moet tevrede wees met die krummels van ons aandag.

Sonder geestelike swaartekrag wat ons dieper neem en in kalm waters anker, gaan 2018 alle spoedgrense verontagsaam en breek. Ons verhouding met tyd word bepaal deur ons verhouding met ons gees. Hoe inniger en dieper jy kontak maak met jou innerlike wêreld hoe meer sal tyd jou respekteer en sal jy nie hoef weg te hardloop voor sy aanslag nie. Jy sal dit regkry om tyd ondergeskik aan jou te maak...en jou eie rutigheid wat geoefen is om dieper se peil sal tyd se wonde ontsmet en genees deurdat jy sagter sal werk met jou sekondes en al sy slagoffers. 2018 is ’n nuwe begin—iets waarin God spesialiseer. Kom ons besin daaroor. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.