Maart 2018
Heil die Leser
Hoe herrys jy onder die ashoop van besluite—goed en sleg—wat oor jare hulle eie deeg gevorm het en snytjie vir snytjie die gis en sinergie van hierdie selfgemaakte komplot aan jou opdis. Die plek waar besluite opgegaar word werk nie volgens die slimmigheid van ’n vooraf geprogrammeerde alogoritme nie, maar meet met fyn akuraatheid selfs die geringste intensie wat binne jou chemiese dispossisie rondfladder. En dis presies híér—by intensie—waar jy jouself moet pootjie om die willekeur en refleks uit jou verhaal te illumineer (wat van jou ’n toeskouer maak) en hierdie dinamika vervang met ’n demonstrasie van wilskrag (onthou net sonder genoeg slaap, bloedsuiker of kalmte is wilskrag swak). Dit beteken die ontwikkel van ’n bewussyn wat met intensie waak oor elke gedagte wat jy formuleer of emosie wat jy uitstuur.
Niemand kan ons sabbotteer soos ons onsself sabbotteer nie. Hoe detoks jy die onsigbare weefsel in jou siel waar gewoontes en besluite gevorm word om die persoon wat jy geword het te versoen met die persoon wie jy veronderstel is om te wees? Dis moeilik om op jouself te opereer.
Ons bloedstroom weet instinktief hoe om ons liggaam gesond te hou: Rooibloedselle voed en gee suurstof en witbloedselle maak skoon en veg. Ons gees weet ook hoe om weg te beweeg van wat giftig is en nader aan wat voedsaam is. ’n Ootmoedige ingesteldheid wat God toelaat om deur die mure van die hart te stap en hand aan hand met Hom plekkie vir plekkie deur ons geestelike terrein te beweeg, sal weet waar en wanneer om wat uit te gooi. So word geestelike groei die ontslae raak van alles wat ons waarde steel—en die pad terug na onsself. Groete Amanda Kreitzer