April 2018
Heil die Leser
Dae en seisoene beweeg onverstoord aan—ondeurdringbaar teen die aanslag van moderniteit wat alles in sy pad met spoed, gerief en die alomteenwoordigheid van netwerke probeer verlei. Onsigbare netwerke binne en buite kabels wat met buiteruimtelike stasies kommunikeer en ons lewens onderwerp aan die onmiddellikheid van die eeu. ’n Onmiddellikheid wat slawe van ons kinders en onbehoplenens van die geslag wat sukkel om die dinamika van hierdie gesiglose kommunikasie te ontsyfer, maak.
Ons staan magteloos en toekyk hoedat kinders ons al by die wegsprinstreep verbysteek as dit kom by die uitdagings van die moderne tegnologie. Ons eie behendigheid met die dinamika om alles wat binne ons leefwêreld breek of stukkend raak—van die kleinste skroef tot fynste stopwerk—te kan regmaak, blyk geen waardetoevoeg te wees tot die beperkinge van almal wat die onmiddellikheid as enigste voorwaarde vir sinvolle oorlewing oorweeg. Daarvoor het Google se logistiek alreeds die regte kontak nommer gestoor.
Funksionele en fisiese kontak met die stoflike en die invloed daarvan op ons weerbaarheid—fisies én geestelik—is ’n les in die waarde van balans waarsonder nog die natuur, nog die mens kan oorleef. Geen ramp is uiteindelik so buitengewoon of so buitensporig as ons die oorsaak daarvan kan vasmaak met die gevolg. Ons bloed handhaaf dieselfde balans in die vorm van pH wat gemeet kan word. Die liggaam sal jou eie kalsium uit jou bene myn net om hierdie fyn ewewig wat die verskil tussen lewe en dood handhaaf, te gehoorsaam. Die geestelike bloedstroom myn gevolge wat as waarskuwings dien, om die herhaling van foute te voorkom. Elke reaksie van ’n gemeenskap wat volg op ’n aksie, gaar kollektief op in ’n groter impak. Soms beland ’n regverdige persoon in die pad van sodanige gevolg en ly dan vir geen rede behalwe die besluit om op daardie oomblik op die verkeerde plek te wees.
Ons smag na verandering—’n sigbare verskil wat die weer, politiek en ekonomie omkeer. Skuiwe op hierdie vlak vereis egter die verandering van paradigmas en nie die omwerwerp van stelsels nie. Laasgenoemde is ’n natuurlike gevolg as bewys van eersgenoemde—’n hartsverandering. Die wêreld buite ons is nie ’n refleksie van wat ons doen maar van wie ons is. Die wonderwerk moet nie buite ons gebeur nie, maar binne ons. Elke keer wat ons dit regkry om teen ons eie natuur op te tree, verrig ons ’n wonderwerk. Net soos wat die water teen sy eie natuur opgehou het om plat te vloei maar regop gestaan het sodat die Israeliete droogvoets deur die Rooisee kon trek. God het sy Seun gestuur nie om van ons goeie mense te maak nie, maar sy kinders. Groete Amanda Kreitzer