Heil die Leser

Maandelikse voorwoord · Amanda Kreitzer

Mei 2018

Heil die Leser

Die altaar waarop verlangens onvervuld wag vir die Hand wat die vuur aansteek is ook die plek waar die chemie van versugtinge kristaliseer om uiteindelik in ons bloedstroom te beland. Of dit die velange na meer rustigheid, voorsiening, ’n ver land of ’n geliefde is, so lank as wat die spoor van verlange sy pad deur ons harte kloof, hou die aarde ons nog vas. Laat sy groen ons nog huppel en sy blou ons nog wonder.

Die opgaar van ervaringe wat deur tyd tot herinneringe geperserveer word, vleg hartseer én pyn, goed én sleg, triomf én neerlaag saam in met die drade van bindweefsel wat ons emosionele profiel vorm. Die somtotaal van een lewe en die sub-somtotale waar dit oorvleuel met die interaksies van ’n ander, vul ons lewens met hoogte- en laagtepunte—die skep van ’n storielyn. In elke geval ’n kleurvolle kaleidoskoop.

Omdat ons nie toeskouers op ons eie storie is nie (gewoonlik net ander sin) is dit maklik om versteekte nuances en onafgeëtste deatil te mis. Is ons blind vir die subtiele leiding—soms misleiding—van ons eie-ek wat onderlangs sy agenda stook en die oorsaak is van menig onverstandige keuses wat telkens ons vrede en vreugde vertroebel en ons ware self misken.

Al het jy ook 99 keer die minder goeie keuse gemaak, die 100ste keer wat jy wel die beter een maak, is dit moontlik om die dinamika van jou storielyn om te keer. Dit gebeur elke keer wanneer jy ’n toeskouer op jou eie verhaal raak. Meteens is dit jy wat die skrywer beinvloed en nie toelaat dat gebeure jou (die skrywer) saamsleep nie. Tydens so ’n oomblik kombineer alles op jou altaar om hulle gesamentlike sinergie tot voordeel en inspirasie van jou verhaal aan te wend. Beleggings gemaak in offerandes trek dan rente in insig wat wysheid word en die los herinneringe konsolideer tot betekenisvolle uiting van ’n unieke geurigheid—jou eie wese. Dan maak dit wat kosbaar in jou eie hart is jou meer gelukkig as al die versuginge van iets wat buite jou moet gebeur om jou verhaal opwinndend te maak. Algaande raak jou keuses suiwerder en jou eenvoud ongekompliseerd. Vorm verloor betekenis en wie gee om dat dat dit verslyt? Dis onmoontlik vir die inhoud om af te neem in waarde. Die kontrak wat jy dan met jou hart sluit, heilig. Groete Amanda Kreitzer

Geskryf deur Amanda Kreitzer · Redaktrise, Val du Charron, Wellington

’n Bewaarplek van haar maandelikse voorwoorde en prosastukke.