Junie 2018
Heil die Leser
’n Sagte omgee is skaars voelbaar deel van die weersverandering vol erbarming wat uitreik na sintuie en droë aarde. ’n Effense traagheid, net genoeg, het tyd se bloedstroom binnegedring as pasaangeër vir die nuwe seisoen. As tyd verweer en ons dit sou kon regkry om sy spoed te stuit, sou tyd se gesig daar jonger uitsien en ons lewens rustiger? Waarskynlik nie.
Sedert die spilt van die atoom, naas die industriële rewolusie, het niks ons lewens méér geimpakteer as dit nie. Tyd was nooit weer dieselfde nie. Dit het konsepsieël verander. Energie het die nuwe medium van kommunikasie geword en die telegraafpaal vervang. Dit het die lang wyser van die horlosie laat afval en ’n nuwe vorm van rusverstoring maak sy verskyning...
Ons is verheug, verslaaf, verlig! Hierdie nuwe dinamika impliseer onmiddellikheid én beskikbaarheid of ’n kombinasie daarvan. Ons onthou skaars die dae sonder selfoon toe die posman, ’n langafstand oproep of ’n telegram maklik die hoogtepunt van die dag of week kon wees. Om te wag het uit ons lewens verdwyn.
Ons weeklaag oor die nuwe ramp—tyd wat heeltyd weghardloop—sonder dat ons besef waar en hoekom dit gebeur het. Daar is ’n nuwe geslag gebore wat die grootste deel van hulle dag in die virtuele wêreld spandeer (selfone en internet). ’n Wêreld waar tyd alle onmiddelike relevansie verloor en die oormaat van inligting aan mishandeling van sintuie grens. Die kollektiewe versadigingspunt spoel sy eie toksiese impak oor in ons gedagtes wat stoei om ’n landingsplek daarvoor in ons onderbewussyn te vind—’n unieke angs ontstaan want die bekommernisse van die hele wêreld word elke aand tydens die 7 uur nuus bo-op die van jou eie gegooi.
Ons kan nie tyd maak nie, net prioritiseer. Waardes en goeie verhoudinge—veral jou verhouding met jouself—word net sterk en heel onder die wakende oog van tyd. Oomblikke sonder onderbreking met veilige grense wat voorsiening maak vir tyd met jouself om te besin en te refelkteer. Hoe anders kry jy jou disc om op te hou met spin?
Val du Charron het sy eie vonnis onder die aanslag van tyd getrou uitgedien—23 jaar hierdie maand. Tyd is ’n openbaarmaker. Oor 23 jaar is die karakter van hierdie nuusdraer blink gevryf en nader na die oppervlak gebring waar dit onder die hammer van tyd en ambeeld van waarheid, sy vorm en inhoud moes handhaaf.
Dankbaarheid in my het nuwe vlakke van innigheid getref, danksy hierdie dorp en sy besondere mense en geskiedenis. Val du Charron kon 23 jaar lank sy eie honger vir waarde versadig uit die oorvloei daarvan uit hierdie gemeenskap. Ek woon self al net so lank hier en daar was nie één dag sonder inspirasie of ’n nuwe lewensbesef nie. Voorwaar ’n beskeie voorreg waarvoor ek baie dankie sê! Groete Amanda Kreitzer