Oktober 2018
Heil die Leser
Wat is hierdie broos werklikheid wat ons LEWE noem? As jy dit onderstebo kon hou en uitskud sou al wat uitval ’n handvol oorskiet en gefragmenteerde herinneringe wees—tussen geboortes en begrafnisse net ’n paar gebreekte harte...
Die genade van lewe en die voorreg van deelname daaraan sypel ongemerk uit ons bestaan weg—deur krakies van besigwees. Besigwees wat ontstaan en gegroei het uit die behoefte daaraan om ons bestaan te regverdig. Só belangrik het ons bestaan uiteindelik geraak dat die uitspattigheid van buitensporigheid ’n las geword het. Ons bestaan rem ons af en het ’n dooie gewig geraak. Alles wat ons opgaar moet gestoor, bestuur, beskerm of toegesluit word. Ons lewe om te bestaan in plaas daarvan dat ons bestaan om te lewe.
Lewe is opgewek en onbesorg. Dit kan nie anders nie want lewe ken net lewe en is veronderstel om ons van ons voete af te haal. Die spanning tussen lewe en bestaan is ’n wipplank waar die hoeveelheid energie wat jy op enige dag in een van hierdie teenoorgesteldes stort, die balans daarvan aan die einde van ’n leeftyd wys of jy gelewe of net bestaan het.
Die onvermoë om die las van bestaan opsy te skuif sodat jy kan lewe, is sigbaar in die epidemie van hulpmiddels wat ingespan word om die moderne mens tot rus te laat kom. Die kuns van afskakel is lankal nie meer moontlik sonder ’n pil of drankie nie. Ons leer ons kinders die kuns van bestaan: Hulle word geleer hoe om hulle tande te borsel, fiets te ry, oor ’n straat te stap, goeie punte te kry en vreemdelinge te vermy, terwyl die kuns van hoe om te lewe ’n ongedefinieërde misterie bly. Doen joga, oefen meer of mediteer. Alles oplossings wat die mens verder isoleer.
Sonder ons siel is die dooie molekules van ons besittings net so dood soos die minerale van ons liggaam voordat dit in kontak met die siel gekom het. Die siel wat goddelikheid as oorsprong en ’n bestemming ontvang het se grootste glorie is om die stoflike te verhef en te veredel—’n konteks vir geestelike groei te skep. Sonder die geestelike inwerking en invloed van die siel sal ons denke aards en vlak wees. Gefokus op oorlewing sal ons die grense van ons bestaan as bakens van sukses beskou en ons bestaan waarborg deur alles wat die oorlewing daarvan bedreig, te neutraliseer. Dit lei tot kompetisie, spanning, stryd en oorlog.
Die siel is onsigbaar wat dit moeilik vir die liggaam maak om daarmee te vereenselwig. Want wat onsigbaar is is ook onwerklik. Tog vereenselwig ons sterk met waardes, emosie, talent en intellek wat ook onsigbaar is—onsigbaare werklikhede in diens van die ego en daarom maklik om mee te identifiseer. Die siel is anders en staan teenoor die stoflike in die sin dat dit in God se tyd bestaan en onbekend is met die dood of verganklikheid. Die intrek daarvan in ons bestaan bring gewoonlik baie lewe. Lank nadat die liggaam sy voorreg om spasie op te neem en tyd in beslag te neem opgegee het, sal die siel steeds sy lesse, waardes en verhoudings verpersoonlik.
Die kuns van lewe is ook die kuns van saamlewe. Die spanning wat verhoudings ervaar beproef haas alle groepe, lande, gelowe, gemeenskappe en gesinne. Ons sal die sigbare werklikheid net genees in dieselfde mate wat ons dit regkry om ons bestaan sinvol met ons lewe te integreer.
Groete
Amanda Kreitzer