Februarie 2019
Heil die Leser
Die behaaglikheid waarmee die natuur haarself aan die omhelsing van seisoene oorgee, bereik digterlike hoogtes in die somer. Skakerings van groen bekoor die instrument van interpretasie—die oog—met verrassende variasie. Of dit kleurvolle blombeddings, wingerde wat met simetriese perfeksie Wellington se heuwels bedek en of dit ’n speelse kus van die oggendson op die blakende gelaat van die ontvanklike landskap is, Bolandse somers is ’n diep lekkerte wat allle weerstand verban.
Tyd se gawe om die los komponente van ons lewe en omstandighede te omskep in ’n ervaring—goed of sleg—is ’n dinamika wat eindeloos herhaal. Buite ons en binne ons. Die kwaliteit van ons innerlike wêreld is minder afhanklik van tyd om die siklusse van seisoene wat groei en oes nader bring as die wêrel buite ons. Die ruggraat waarop ons ervarings steun is die keuses wat ons maak. En ons keuses word gewoonlik beinvloed deur ons konsep van onsself/ander. En die draadwerk wat verstrengel tussen gedagtes, emosie en gewoontes lê, en op fyn en rare inpuls reageer, is in misterie gehul.
Onsigbaar is dit vir ons onwerklik, dog is dit die lokomotief wat die res van die trein se trokke op hulle spoor hou en vorentoe vat. Niks gebeur sonder dat ’n gedagte wat sy beinvloed op ’n besluit uitgeoefen het, alles in beweging bring nie. Ontsyfer die refleks roetines van hierdie “internet” en jy het die kode gebreek. Onderbreek die stroom van gedagtes wat konstand sy inhoud leeg maak in ons gees, sodat keuses wat grootword om nuwe keuses te maak, die voorreg kan geniet om beter voorsate te kon hê. Ons hart is die altaar waarop gedagtes hulleself werp om deur die vuur van emosie en gewete tot noodlot of betemming verteer te word.
As 2019 ’n goeie jaar gaan wees, moet dit eers goed in ons innerlike wêreld wees. As keuses ons ervaring inkleur en tyd net die bekermingsengel is wat omstandighede nader bring en geleenthede vir groei skep, dan is tyd die instrument wat ons toelaat om weer te kies. Kies ons reg is verandering onmiddellik effektief en ’n gegewe—mits die veredelende invloed van ons gees die laaste sê kon hê... Groete Amanda Kreitzer