September 2017
Heil die Leser
Die sagte nuanses van afwagting wat sluimer, soms huiwer, net buite hoorafstand van ons eie gewaarwording, gebruik intuisie wat 'n impuls van verlange stuur om ons aandag te vestig op dit wat dieper betekenis aan ons dag en ons lewe gee. 'n Lewensdoel wat vooruit bestem was om te gebeur en wat die belofte daarvan in die genepoel van DNA stoor. Dit is dit wat ons prikkel om 'n talent of 'n liefde of belangstelling te verfyn—'n opstuwing in ons bloedlyn wat wil losbreek om die spoor van vry wees/enkel wees op te tel, maar selde genoeg aandag kry. Want hoe breek jy los uit die greep van fobies of neurose wat jou inhibeer en laat terugdeins uit vrees vir wat mense gaan sê.
Gekondisioneer om te oorleef, selfs gelukkig te wees binne die benoude en verknegende grense van materialisme, stuur ons nooit ons wortels dieper na die onontginde aarde in ons eie wese nie. Onvervuld soek ons sonder om te vind. Ware geluk is aan die einde van die reënboog maar die reënboog bly die heeltyd skuif. Omdat die dieper betekenis en doel van ons lewe nie iets is wat jy soek en vind nie, maar iets wat jy bespeur en ontdek—jy kom daarop af.
Ons het reeds alles wat ons nodig het om ons betemming waar te leef—dis in elkeen se vingerafdruk en in elke uitdrukking van jouself. Jou unieke gawe met instruksies in fynskrif wat geskryf is in die sagter oomblikke van jou waarneming. Jou geskenk wat net deur jouself uiting kan vind om die mensdom te seën en te verryk maar wat keer op keer gekaap word as gevolg van die sameswering van die samelewing, tradisie, opvoeding of politiek. Die meeste kere is dit goed wat ons moet afgooi wat ons eie bestemming verontreg, en nie goed wat ons moet bykry nie
As God met 'n sirkel op 'n kaart jou teenwoordigheid nou en hier op Wellington gemerk het, kan kan jy nie anders as om die bestaansreg van jou eie lewe ook hier en nou te besef en ontdek nie—binne die geografiese grense van jou onmiddellike omgewing. Hier huiwer wonderlike doelgeskepte bestemmingsgeleenthede dag in en dag uit. Waarde wat elke dag op ons wag. 'n Heuglike afwaartse vloei van gebeure vir die dag, datum, plek en oomblik. As jy leuen in die rigting daarvan, ontdek jy God se hand, plan én jou lewensdoel—’n sagte oogkontak met jou hart én ander se broosheid. Groete Amanda Kreitzer